Gemeet aan die hoeveelheid Louis Vuitton-tasse wat op goue trollies deur die ingang van die One&Only Hotel in Kaapstad gestoot is, was dit duidelik dat dié IPL-partytjie een van glans en sterre sou wees. Vrydagaand het dit behoorlik in die Kaapse Waterfront gegons waar Sol Kerzner vir 'n tweede glanspartytjie in die Moederstad gesorg het - hierdie keer was internasionale krieket egter die fokus.

Die sekerheidsmaatreëls was enorm. Die media is met luuksemotors afgelaai nadat ons, soos op 'n lughawe, van kop tot tone ''geskandeer'' is. En afgesien daarvan dat die partytjie gewemel het van lyfwagte, het daar glo teen Vrydagmiddag sowat 30 polisieduikers die waterkanale van die hotel gefynkam vir enige verdagte dinge.

"Die IPL is 'n goeie toets vir Suid-Afrika met die komende sokkerwêreldbeker op hande - veral in die lig van sekerheid," het Johann Rupert gister gesê.

Van die bekendes wat ons op die rooi tapyt gesien het, was Lynne Brown (premier van die Wes-Kaap), Ebrahim Rasool, Michelle McLean, die model Lisa Cowley, Chester Williams, Gary Kirsten, Shane Warne, Kevin Pietersen, Lalit Modi (IPL-voorsitter), Corné Krige en die man van die oomblik, die Bollywood-ster Shahrukh Khan.

SARIE-fotograaf Rodger February en web-joernalis Lou-Ann Stone was nie op die rooi tapyt nie - maar vlak langsaan.