Die 25ste James Bond-rolprent sien later vanjaar die lig: No Time To Die. Die Britse akteur Daniel Craig klim vir die vyfde keer in die agent 007 se skoene.

Hy is egter nie die akteur wat homself al die meeste as “Bond, James Bond” kon voorstel nie. Wyle sir Roger Moore het sewe keer dié karakter vertolk, met die Skotse akteur sir Sean Connery, die eerste Bond, kort op sy hakke met ses rolprente agter sy naam.

Net so ikonies soos elke Bond, Bond-meisie en Bond-skurk is die temalied. Musieklegendes soos Louis Armstrong, Tom Jones, Tina Turner, Madonna, Carly Simon en Adele het almal al ’n 007-lied gesing.

En nou is dit die 18-jarige Billie Eilish se beurt. Sy en haar broer, Finnaes O’Connell, het die liedjie “No Time To Die” vir die nuwe fliek geskryf.

Hier is al die temaliedjies:

Dr. No (1962) 

Sean Connery en Ursula Andress in ‘Dr. No’. FOTO Instagram

In die eerste fliek met sir Sean as James Bond was Ursula Andress die Bond-meisie Honey Ryder. Die temalied was natuurlik die ikoniese “James Bond” wat deur Monty Norman geskryf en deur die Oscar-bekroonde John Barry verwerk is.

Byron Lee se “Kingston Calypso” word ook as ’n Dr. No-temalied beskou.

From Russia with Love (1963)

Daniela Bianchi was die tweede Bond-meisie. FOTO Instagram

Sir Sean het weer die sjarmante agent gespeel. Maar dié keer was Daniela Bianchi die Bond-meisie, Tatiana Romanova. Matt Monro het die temalied, “From Russia with Love”, gesing.

Goldfinger (1964) 

Shirley Eaton se hele lyf was vir een toneel goud geverf. FOTO Instagram

Weer dieselfde Bond, maar met twee vroue wat meegeding het om sy aandag: Jill Masterson (Shirley Eaton) en Pussy Galore (Honor Blackman). Die temalied, “Goldfinger”, is deur Shirley Bassey gesing.

Thunderball (1965)

Agter-die-skerms op die stel van “Thunderball”. FOTO Instagram

Sir Sean het steeds aan sy droë martini geteug, terwyl Claudine Auger die rol van die sexy Bond-meisie Domino vertolk het. En Tom Jones het die temalied, “Thunderball”, gesing.


You Only Live Twice (1967)

Op die stel van “You Only Live Twice”. FOTO Instagram

Dit sou sir Sean se laaste James Bond-fliek wees. Mie Hama het Bond-meisie Kissy Suzuki gespeel. Die temalied, “You Only Live Twice”, is deur Frank Sinatra se dogter Nancy gesing.

On Her Majesty’s Secret Service (1969)

George Lazenby en Diana Rigg tydens die verfilming van “On Her Majesty’s Secret Service”. FOTO Instagram

Die eer om James Bond te speel het George Lazenby te beurt geval, maar hy het agterna besluit om nie nog ’n 007-fliek aan te pak nie. Diana Rigg was die Bond-meisie, Teresa di Vicenzo. En Jazz-ikoon Louis Armstrong het die temalied, “We Have All the Time in the World”, gesing.

Diamonds Are Forever (1971) 

Sir Sean Connery het vir oulaas in “Diamonds are Forever” gespeel. FOTO Instagram

Die EON-produksiehuis het sir Sean gesoebat om net ’n laaste keer Bond se pak aan te trek. Hy het ingestem en Jill St. John het die Bond-meisie Tiffany Case gespeel. Shirley Bassey het weer die temalied, “Diamonds Are Forever”, gesing.

 

Live and Let Die (1973)

Die derde James Bond: Sir Roger Moore. FOTO Instagram

Dit was Roger Moore se eerste fliek as Bond met die Bond-meisie Solitaire, gespeel deur Jane Seymore, aan sy sy. Die temalied, “Live and Let Die”, is deur sir Paul McCartney gesing.

The Man with the Golden Gun (1974)

Die akteurs doen promosie vir “The Man with the Golden Gun”. FOTO Instagram

Dieselfde Bond, maar met ’n nuwe liefde. Die aktrise Britt Ekland het die Bond-meisie Mary Goodnight vertolk. Die temalied, “The Man with the Golden Gun”, is deur Lulu gesing.

The Spy Who Loved Me (1977)

Barbara Bach was die Bond-meisie in “The Spy Who Loved Me”. FOTO Instagram

Sir Roger keer terug as Bond, met Barbara Bach wat as die Bond-meisie Anya Amasova sy hart steel. Carly Simon het die temalied, “Nobody Does It Better”, gesing.

Moonracker (1979)

Speelse oomblik op die stel van “Moonracker”.

Sir Roger trek weer sy Bond-pak aan, en dié keer is Lois Chiles as Holly Goodhead die Bond-meisie. Shirley Bassey het vir ’n derde keer die temalied gesing.

For Your Eyes Only (1981)

Sir Roger Moore was die akteur wat die meeste al vir Bond in ION-produksies vertolk het. FOTO Instagram

Sir Roger is die vyfde keer 007, en Melina Havelock, gespeel deur Carole Bouquet, die Bond-meisie. Sheena Easton het die ikoniese “For Your Eyes Only” gesing.

Octopussy (1983)

FOTO Instagram

Sir Roger het vir ’n sesde keer 007 se skoene volgestaan. Dié keer was Maud Adams as Octopussy die Bond-meisie. Die temalied, “All Time High”, is deur Rita Coolidge gesing.

A View to a Kill (1985)

Grace Jones het een van 007 se vyande in “A View to Kill”. FOTO Instagram

Dit was sir Roger se laaste rolprent as James Bond. Tanya Roberts as Stacey Sutton was sy Bond-meisie. Die temalied, “A View to a Kill”, deur Duran Duran was ’n groot treffer en is selfs vir ’n Golden Globe benoem.

Living Daylights (1987) 

Maryam d'Abo het die Bond-meisie in “Living Daylights” gespeel. FOTO Instagram

Timothy Dalton het die vierde akteur geword wat 007 vertolk. Aan sy sy was Maryam d’Abo as die Bond-meisie Kara Milovy. A-Ha het die gelyknamige temalied gesing.

License to Kill (1989)

Timothy Dalton in “License to Kill”. FOTO Instagram

Die laaste rolprent waarin Timothy Dalton “Bond, James Bond” sou uiter. Carey Lowell as Pam Bouvier was die Bond-meisie. En Gladys Knight het die temalied gesing.

Golden Eye (1995)

Pierce Brosnan, vyfde Bond, op stel van “Golden Eye”. FOTO Instagram

Pierce Brosnan het die vyfde akteur geword wat die sjarmante spioen speel. Die Bond-meisie wat sy hart gesteel het, was Natalya Simonova, gespeel deur Izabella Scorupco. Die temalied is deur U2 se Bono en Edge geskryf, terwyl Tina Turner dit gesing het.

Tomorrow Never Dies (1997)

Michelle Yeoh se agent Wai Lin was die Bond-meisie in “Tomorrow Never Dies”. FOTO Instagram

Dieselfde Bond, maar ’n nuwe liefling: Wai Lin, gespeel deur Michelle Yeoh. Die temalied is deur Sheryl Crow gesing.

The World is Not Enough (1999)

Speelse oomblik op die stel van “The World is Not Enough”. FOTO Instagram

Die wetenskaplike dr. Christmas Jones (Denise Richards) was die nuwe Bond-meisie. Garbage het die temalied gesing.

Die Another Die (2002)

Halle Berry was die Bond-meisie in “Die Another Die”. FOTO Instagram

Dit was Pierce se laaste rolprent as Bond. Die Oscar-wenner Halle Berry het die Bond-meisie Giacinta Johnson gespeel. Madonna het die temalied gesing.

Casino Royal (2006)

Op die stel van “Casino Royal”. FOTO Instagram

Die eerste rolprent waarin die huidige Bond, Daniel Craig, gespeel het. Aan sy sy was Eva Green as Vesper Lynd. Chris Cornell het die temalied, “You Know My Name”, geskryf en gesing.

Quantum of Solace (2008)

Olga Kurylenko in “Quantom of Solace”. FOTO Instagram

Die aktrise Olga Kurylenko het die rol van die Bond-meisie, Camille Montes, vertolk. Die temalied, “Another Way to Die”, is deur Jack White en Alicia Keys gesing.

Skyfall (2012)

FOTO Instagram

Die ikoniese Miss Eve Moneypenny (Noamie Harris) was die Bond-meisie. Die temalied deur Adele het ’n Oscar vir beste oorspronklike liedjie gewen - ’n eerste vir die James Bond-flieks.

Spectre (2015)

Aan Daniel se sy was Léa Seydoux as dr. Madeleine Swann. Die temalied, “Writing on the Wall”, het ook vir Sam Smith ’n Oscar-beeldjie besorg.