Die Hollywood-ster Jennifer Aniston is vandag 50 jaar oud. Om dié mylpaal te vier het sy die naweek ’n groot partytjie in die Sunset Tower-hotel in Los Angeles gehou. Sy het sexy in ’n swart eenstuk gelyk.

Meer as 200 gaste, die meeste van hulle Hollywood-sterre, het vir haar partytjie opgedaag. Bekendes soos Reese Witherspoon, Kate Hudson, Ellen DeGeneres, Leonardo DiCaprio, Katy Perry, Orlando Bloom, Gwyneth Paltrow, Sandra Bullock, George Clooney en sy prokureur-vrou, Amal, was almal daar. 

Maar veral een gas het aandag getrek: Brad Pitt. Die sexy Hollywood-ster was tussen 2000 en 2005 met Jennifer getroud. Hulle is geskei nadat hy glo op die stel van Mr. and Mrs. Smith ’n verhouding met medester Angelina Jolie aangeknoop het. Dié verhouding het op ’n huwelik van twee jaar uitgeloop, maar hulle is in 2016 uitmekaar.

Op haar beurt was Jennifer tussen 2015 en 2017 met die akteur Justin Theroux getroud. Justin was nie die naweek onder die gaste nie.  

Brad Pitt and Jennifer Aniston during The 56th Ann
FOTO Getty Images / Gallo Images

Volgens Daily Mail is Jennifer en Brad nou net goeie vriende.  

Die gaste op haar partytjie is behoorlik bederf. Daar was heerlike kos, wat mini-hamburgers en taco’s ingesluit het, en die sjampanje het omtrent gevloei. Die verjaardagkoek was ’n reusagtige vanieljelaagkoek met bessies. En ’n platejoggie het seker gemaak die gaste kan die nag omdans. 

Kate en Gwyneth het op Instagram foto-oomblikke van die partytjie gedeel.