Die dag kom al hoe nader waarop ons ons Bruidspaar van die Jaar 2016/2017 aanwys. Maar eers, hier is ons top-10!

Dis seker die grootste dag in enige mens se lewe. Dit verg maande se harde werk en haarfyn beplanning om die geleentheid spesiaal en eie aan jul styl en liefde te maak. Ons was vanjaar weer verstom oor hoeveel inspirasie agter elke troue is. Maar nou is die tyd hier om die top-10 aan te kondig!

Kyk ons top-10-bruidspare se dae vol inspirasie:

Tanya en Charles Davis

Troudatum: 02/04/2017

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Fort Nottingham, Natalse Middelland

Provinsie: KwaZulu-Natal

Onthaalplek: Crystal Barn Country Estate

FOTO Vanilla photography / Verskaf

Tanya sê: Ons troue was in die middel van die KwaZulu-Natalse Middelland. Die dekor was eklekties maar elegant, en my skoonma het die tafels met donker blomme versier. Ons het op verskillende maniere ons persoonlikheid uitgeleef en die troue uniek gemaak: Die koek is met 100’s and 1000’s versier, elke gas het ’n Lotto-kaartjie as geskenk gekry, en vir poeding was daar ’n kroeg met verskillende Magnum-roomyse. Laasgenoemde was ’n treffer! Dit was vir ons baie belangrik dat elke gas spesiaal voel, soos op hul eie troue.

FOTO Vanilla / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Missy en Lohan van der Walt

Troudatum: 03/19/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Pretoria

Provinsie: Gauteng

Onthaalplek: Pretoria High School for Girls

FOTO Leandri Kers / Verskaf

Missy sê: Ek was tien jaar gelede ’n leerling in Pretoria Girls High en het nooit gedroom ek sou eendag daar trou nie. Ons het nogal ’n kans gewaag omdat die skool nie die gewone trougeriewe het nie. Maar dit het ons ook die vryheid gegee om ’n unieke dag te skep wat ons behoeftes pas. Een van ons gewaagde besluite was om goue papierborde en bamboes-eetgerei te gebruik. Ek het Lohan se tannie se trourok van 30 jaar terug gedra. Ons het die rok geneem na ’n modeontwerper wat kon help om dit te moderniseer. Ons troudag was werklik ’n spanpoging en die hele familie het gehelp. Aan die einde van die dag was ek getroud met die belangrikste mens in my lewe.

FOTO Leandri Kers / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Chandré en Nicholaas Lerm

Troudatum: 12/12/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Paarl

Provinsie: Wes-Kaap

Onthaalplek: Belair Country House & Events Venue

FOTO Moira West Photography / Verskaf

Chandré sê: Ons troudag was werklik die beste dag van ons lewe. Dit is die onbeskryflikste gevoel van ’n seënryke dag – ’n ervaring van soveel liefde en omgee vir mekaar. Ons mooiste herinnering is die oomblik toe ek aan die sy van my pa in die paadjie afgestap gekom het en my man nie sy trane kon keer nie – oorstelp van vreugde en trots. Dit was liefde wat nie in woorde uitgedruk kan word nie en ons vir ewig sal bybly.

FOTO Moira West Photography / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Elzaan en Pieter Holtzhausen

Troudatum: 12/03/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Paarl

Provinsie: Wes-Kaap

Onthaalplek: Eben-Haëzer Wedding & Function Venue

FOTO Nikki van Dierman Photography / Verskaf

Elzaan sê: Die dag en dekor was getooi in sagte satyn, lae net en kant. Die kleure was ’n kombinasie van sagte pienk met metaalkleure. Ek het maande lank gewerk aan die bruidsmeisies se rokke, my trourok en Pieter se onderbaadjie. Ek het ook die tafelversierings self gemaak. Elke item is met liefde aanmekaargesit en toe dit uiteindelik alles bymekaarkom, was dit ’n wonderlike mengsel van kleure en teksture.

FOTO Nikki van Dierman Photography / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Nikita en Tiaan Minnie

Troudatum: 09/24/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Nylstroom

Provinsie: Limpopo

Onthaalplek: Koro Creek Golf Estate

FOTO Mandy Klopper Photography / Verskaf

Nikita sê: Ons troudag was op ’n warm dag met geen wolk in die lug nie. Die bosveld se hitte is met ’n koel briesie verlig. Die seremonie het onder ’n wildevy op Oupa en Ouma se wildplaas plaasgevind en al die familie en vriende het bymekaargekom. Die groot wag voor die spesiale oomblik toe ek en Tiaan mekaar weer voor die kansel sien, het soos ’n ewigheid gevoel. Ons albei was baie opgewonde oor die groot dag en om die volgende hoofstuk saam te begin.

FOTO Mandy Klopper Photography / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Sunel-Marie en Nicolaas van der Westhuizen

Troudatum: 12/19/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Riebeek-Kasteel

Provinsie: Wes-Kaap

Onthaalplek: Delsma Farm

FOTO Natasha Taljard Photography / Verskaf

Sunel-Marie sê: Die stof op ’n grondpad sal geen plaaskind vir iets anders kan verruil of vergeet nie. Ek het in Limpopo grootgeword en Nicolaas in die dorre Karoo, en saam het ons liefde vir die plaasomgewing gegroei. Die plaasgevoel is net iets wat ons koester en wou deel maak van ons groot dag. Ons troue was ’n feesviering saam met al ons vriende en familie. Dit is goue oomblikke soos hierdie wat ons sal koester vir die res van ons lewe.

FOTO Natasha Taljard Photography / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Judith en Deano Diergaardt

Troudatum: 11/12/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Rawsonville

Provinsie: Wes-Kaap

Onthaalplek: Opstal Estate

FOTO Dewald Kirsten Photography / Verskaf

Deano sê: Baie mense sê dat hul troudag die gelukkigste dag van hul lewe was. Ek verskil. Jou troudag is nie die gelukkigste dag van jou lewe nie. Maar dis nie omdat ek nie gelukkig getroud is nie. Ek is baie gelukkig getroud. My troudag was wonderlik, en ek is geseënd met ’n wonderlike vrou. Ons troudag is gevolg deur dae wat nog gelukkiger was as daardie spesiale dag. Ons troudag was slegs die eerste van baie dae van vreugde. My huwelik self, nie net die begin daarvan nie, is een van die grootste vreugdes van my lewe.

FOTO Dewald Kirsten Photography / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Amorei en SJ Engelbrecht

Troudatum: 12/03/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Tulbagh

Provinsie: Wes-Kaap

Onthaalplek: Roodezand

FOTO Joshua Buhrmann / Verskaf

Amorei sê: Ek was nie noodwendig iemand wat jare lank oor my troudag gedroom het nie, maar soos elke bruid wou ek regtig ’n mooi dag ervaar om my en SJ se lewe saam te begin. Ons wou seker maak alles op die dag reflekteer ook ons persoonlikheid, wat ek kan opsom as gemaklik en opreg. Ons wou seker maak ons geniet die hele dag en trou-ervaring, mens doen dit immers net een keer!

FOTO Joshua Buhrmann / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Heloise en Juanrae Taljaard

Troudatum: 12/15/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Riebeek-Wes

Provinsie: Wes-Kaap

Onthaalplek: Groenrivier Function Centre

FOTO Wrensch Lombard Photography / Verskaf

Heloise sê: Soos enige ander bruid wat oor haar groot dag droom, is laat slaap nie ’n opsie nie, die opgewondenheid loop te hoog. My dag het begin met koffie en ontbyt in die bed saam met my moeder en my twee strooimeisies. Min het ek geweet dat ek die hele dag op die hande gedra gaan word! Terwyl ons grimeer is, het ’n strooimeisie ’n groot bos blomme gebring met ’n kaartjie wat sê: “Goeiemôre, my amper-vrou ... geniet jou dag ten volle en neem elke oomblik in. Sien jou 16:00 voor die kansel.” Nie lank daarna nie toe kom daar nog ’n geskenk met ’n kaartjie wat sê: “Nothing in the world smells as nice as the person you love.” Ek word bederf met die lekkerste parfuum! Kort daarna word daar nog ’n geskenk oorhandig met ’n brief wat sê: “True love is like a diamond, it’s rare, beautiful and lasts forever.” My amper-man het seker gemaak dit is van die oggend tot die aand die beste dag. Die dag het vinnig verbygevlieg, en toe ek weer sien, staan my pa aan my sy met “How Long Will I Love You” wat op die agtergrond speel.

FOTO Wrensch Lombard Photography / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Michelle en Tiaan Visser

Troudatum: 11/05/2016

Dorp/Stad waar troue plaasgevind het: Paarl

Provinsie: Wes-Kaap

Onthaalplek: Belair Country House & Events Venue

FOTO Lindie Meyer Photography / Verskaf

Michelle sê: My troudag was die beste dag van my lewe!

FOTO Lindie Meyer Photography / Verskaf

Sien hul inskrywing hier.

Ons kondig ons Bruidspaar van die Jaar 2016/2017 in ons Augustus 2017-uitgawe aan.

Te koop vanaf 24 Julie.

Lees nou

Airbnb se top-10-plekke vir alleen reis: SA stad haal nr. 5!

En kyk die 56 nuwe emoji’s …

Al een sonder Apple Music? Stroom hiér!