Meers as twee derdes (69%) van Suid-Afrikaanse vroue is oorgewig, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bevind.

In vergelyking met die res van die wêreld, staan ons redelik voor in die koor. Die internasionale gemiddelde is 51% - wat beteken dat net ’n bietjie meer as die helfte van die wêreld se vroue oorgewig is.

SA mans vaar effens beter met 41% vergeleke met die internasionale gemiddelde van 47%. Alhoewel SA se vroue nie onder die top-10 val op die lys van vetste vroue ter wêreld nie, beklee ons onder Afrika-lande die 4de posisie, naas Egipte, die Seychelle en Lesotho. In vergelyking met die ander Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) vaar SA vroue ook die slegste, terwyl Indië se vroulike bevolking met 18% die beste van die lande vaar. Oorgewig is ’n wêreldwye probleem en ons rugby- en krieketbure Australië en Nieu-Seeland vaar selfs slegter. Volgens die verslag is 76% van Australiese mans en 67% van vroue oorgewig. En in Nieu-Seeland 74% van mans en 74% van die vroue. Bronne: Cape Talk en WGO

FOTO: Instagram  @kryptonklary   FOTO: Instagram @kryptonklary

Wat beteken ‘oorgewig’?

Ten einde te bepaal of iemand oorgewig, ondergewig of gesond is, moet mens na die verhouding tussen hul gewig en lengte kyk. Hierdie syfer is jou liggaamsmassa-indeks (LMI) en dit het die wêreldwye aanvaarde manier geword om gesonde gewig te bepaal – alhoewel dit nie in alle gevalle 100% akkuraat is nie.

Bereken jou LMI hier

LMI onder 19 = ondergewig

LMI tussen 19-25 = normaal

LMI bo 25 = oorgewig

Skud daardie kilo's af

Mariza van Zyl, kliniese geregistreerde dieetkundige van Betereet, deel "maermaak"-kosse wat dalk sal help om jou gewig onder beheer te kry.

  • Die regte olie: Elke sel in jou lyf is ’n weerspieëling van die soort vet wat jy eet. Sekere vetsoorte veroorsaak byvoorbeeld meer insulienweerstandigheid omdat dit die selwande se werking verander. Dit dra by tot ’n geleidelike proses (dikwels oor jare) van stadige gewigstoename, wat dan later sneeubal en bydra tot die ontwikkeling van diabetes en hartsiekte. My topkeuses is koudgeparste of koudgeprosesseerde olyfolie, neute en sade (of koudgeparste olies), kanola-olie (net Suid-Afrikaans geproduseer en sonder preserveermiddels), avokado en botter.

  • Sardientjies: Dis ryk aan verskeie voedingstwowwe, minerale, vitamiene en natuurlik omega 3-vette. Wat jy miskien nie geweet het nie, is dat 1 blikkie sardiens elke week genoegsaam is om aanvullings oorbodig te maak. Die omega 3-vette speel ’n direkte rol in insuliensensitiwiteit, maar ook in die ontwikkeling van insulienweerstandigheid.

  • Gemmer: Vars of gedroog. Dis maklik om gemmer deel van jou daaglikse patroon te maak; mens kan selfs heerlike tee daarvan trek. Gemmer werk op verskillende plekke in jou lyf om die onderliggende kwessies, wat met hardnekkige oorgewig soos bonsende bloedsuiker, stres, cholesterol en oneffektiewe detoksifikasie gepaardgaan, aan te spreek.

  • Kefir: Dit is aangesuurde melk en proe soos iets tussen karringmelk en jogurt. Jy maak dit self met ’n "jogurt-plantjie" of kefir-kultuur. Nee, dit stink nie soos KUBUS vir dié wat dit onthou nie. Dis een van die goedkoopste en maklikste, mees doeltreffende maniere om veral jou dermkanaal gesond te hou. Hipokrates het al meer as 2 000 jaar gelede geweet die dermkanaal is die orgaan wat ’n beduidende effek op die hele liggaam se werking het. Die nuutste navorsing dui daarop dat daar waarskynlik ’n direkte verband tussen die gebrek aan voldoende dermflora, tesame met gepaardgaande suboptimale vertering (a.g.v. bv. preserveermiddels), te veel verfynde kosse wat arm is aan vesel en voedingstowwe en te min rou kosse en die oorgewig- en diabetes-epidemie is! Anders as meeste kommersiële bronne van kulture of probiotika, bevat jou tuisgemaakte jogurt egter geen preserveermiddels nie en ook nie net een of nege verskillende soorte organismes nie, maar ’n wye verskeidenheid! Elkeen het ’n ander funksie. Almal is eintlik baie nodig en ons kry dit nie sommer uit ander voedselbronne nie.

  • Pomelo’s: Beskikbaar. Bekostigbaar. Dis ’n BRILJANTE aanvulling as hulp in gewigsverlies, insulienweerstandigheid en selfs bloeddruk. Navorsing toon dat mense vet verloor deur net ’n pomelo te eet. Lees gerus meer op www.betereet.co.za oor hoéveel, wánneer en wát. Onthou: pomelo mag inmeng met die absorpsie van sekere medikasie.

Bron: SARIE.com

Nóg van Mariza van Zyl op SARIE.com