Die Protea Ryan McLaren kon nou wel nie in vlees by sy enigste suster se troue wees nie, maar hy het steeds plan gemaak om dié kosbare dag nie heeltemal mis te loop nie, skryf Beeld. Lees die volledige artikel hier. Ryan se suster, Robyn-Lee, is die afgelope naweek met Christo Swartz getroud. Die krieketster kon ongelukkig nie daar wees nie, want hy moes Suid-Afrika Saterdag nog op die krieketveld verteenwoordig. Tog het hy nie op hom laat wag nadat die Proteas vir Sri Lanka geklop het nie - die bouler en kolwer is ná die wedstryd reguit kleedkamer toe om op sy selfoon te kyk hoe sy suster trou! Sy vrou, Candice, het hom via ’n selfoon-internet-videodiens gekontak sodat hy steeds vir Robyn-Lee en Christo voor die kansel kon sien staan. Só het Ryan se spanmaat, Dale Steyn, oor die troue getwiet.

Die speler kon nie voor verlede Woensdag vir sy suster sê of hy haar troue kan bywoon nie. Hy verduidelik dat hy, indien die Proteas verlede Woensdag se wedstryd teen Sri Lanka kon wen, die troue miskien sou kon bywoon. Maar ná die span se nederlaag teen Sri Lanka, kon Ryan nie Saterdag se wedstryd misloop nie.

Gelukkig het die Proteas toe die wedstryd én die reeks teen Sri Lanka 2 - 1 gewen. Dis die eerste keer dat die Proteas ’n reeks in Sri Lanka wen.

Hy kon darem steeds ’n heildronk op die bruidspaar instel. Ryan het vooraf ’n video van sy heildronk opgeneem, wat toe op die onthaal gespeel is. Hy het op sy selfoon gekyk hoe sy suster en swaer op sy toespraak reageer.

Hy en Robyn-Lee, wat in Windhoek, Namibië, woon, is sy ouers se enigste kinders.

Hier vertel Ryan self van sy suster se troue.

BRON: Beeld

Nóg trou-nuus op SARIE.com