Die Cannes-rolprentfees het gisteraand geopen met die vertoning van die langverwagte Grace of Monaco, waarin Nicole Kidman Grace Kelly speel.

Volgens The Guardian was dié rolprent die "vlagskip-film" by Cannes 2014, aangesien dit baie van die elemente bevat wat vir sukses sorg by ’n rolprentfees - die glans van die Riviera én klassieke Hollywood, ’n swaargewig-aktrise soos Nicole Kidman, politieke intrige en ’n gewilde Franse regisseur.

Só het Nicole Kidman gisteraand by die eerste vertoning van Grace of Monaco gelyk

Tog dui die meeste resensies van Grace of Monaco sover daarop dat dié fliek ’n groot teleurstelling is. Resensente beskryf dit as "simpel melodrama", "onsuksesvolle waagstuk" en "’n Chanel-advertensie van 104 minute, sonder die subtiliteit en diepte".

Olivier Dahan is die regisseur van dié rolprent. Hy het naam gemaak met La Vie en Rose, sy fliek oor die sangeres Edith Piaf se lewe, waarin die Franse aktrise Marion Cotillard gespeel het. Volgens onlangse gerugte was die vervaardiger van Grace of Monaco, Harvey Weinstein, glad nie beïndruk deur Olivier nie. Hy wou graag die finale produk verander, maar Olivier het sy voer neergesit.

Nicole en haar medester, Tim Roth. Tim vertolk die rol van Rainier Grimaldi III.

Tog is Nicole steeds opgewonde oor die rol wat sy gespeel het. Sy het aan joernaliste by die fees gesê dat Grace Kelly haar fassineer. Haar bestudering van die prinses het haar net weer laat besef hoe ongewoon Grace se wêreld was.

"Sy was baie slim en onder die koel uiterlike het sy ’n groot passie vir en nuuskierigheid oor die lewe gehad. Sy het haar waardigheid behou, iets wat baie moeilik is wanneer jy so dikwels in die kollig is," het Nicole gesê. Die aktrise was ook jammer om te hoor dat Grace en prins Rainier Grimaldi III se kinders, prins Albert en prinsesse Caroline en Stephanie, ongelukkig is oor die fliek.

"Ek wil hê hulle moet weet die optrede is met liefde gedoen. As hulle ooit die rolprent sien, sal hulle weet dis gedoen met ongelooflik baie toegeneentheid teenoor albei hul ouers en hul liefdesverhaal," het sy verduidelik, maar toegegee sy verstaan dat die Grimaldi's hul ouers se privaatheid wil beskerm.

SA flieks in Cannes

Volgens Die Burger word vier rolprente oor SA se pad na demokrasie  vanjaar op die 67ste Cannes-rolprentfees vertoon. Dié flieks is iNumber Number, Miners Shot Down, Nelson Mandela: The Myth and Me en One Humanity.

Laasgenoemde is ’n dokumentêr wat fokus op die internasionale gemeenskap se bydrae tot die einde van apartheid in Suid-Afrika. Miners Shot Down gaan oor die Marikana-slagting, iNumber Number is ’n polisiedrama en Nelson Mandela: The Myth and Me is ’n dokumentêr waarin rolprentmaker Khalo Matabane sy herinneringe aan Madiba se oproep tot vergifnis deel.

*Die fees eindig 25 Mei

BRONNE: The Guardian & Die Burger