Werner van Zyl (38) 'n eiendomsontwikkelaar en Johanna Botha (33) het mekaar in Desember 2006 by 'n Watershed-vertoning by die Barnyard-teater in Mosselbaai ontmoet. Twintig maande gelede het hy en Jo, eienaar van die Schoongezich Spa in Pretoria, begin uitgaan en hulle is toe in my Mei vanjaar getroud.

Hulle het besluit hulle wil nie 'n troue hê soos alle ander troues wat net drie tot vier ure duur en waar almal 'n week later van die troue vergeet het nie. Hulle wou 'n troue hê waar hulle saam met naaste familie en vriende kwaliteittyd kon deurbring, sommer vir 'n hele week! Die wettige dokumente was reeds in SA geteken.

"Die hele week in Mauritius was een groot ervaring. 'n Hoogtepunt en herinnering wat ons nooit sal vergeet nie," het Werner gesê.

Na die troue was hulle, toe al die gaste terug is SA toe, vir 'n paar dae by die Four Seasons Hotel by Anahita, ook op Mauritius, vir 'n kort wittebrood.

'n Vriend van Werner, Marnus Ferreira, het die hele tyd met sy videokamera rondgeloop en die hele week se bedrywighede afgeneem. Hy het dit toe geredigeer tot omtrent 2 ure en elke gas by die troue het 'n DVD gekry as 'n aandenking!

"Ons het reeds 'n reünie gehou!"

Só skryf Carike oor haar seun se groot dag

"Hierdie was 'n troue wat niemand wat daar was seker ooit sal vergeet nie. Daar het 70 mense van hier af gegaan om 'n week lank saam vakansie te hou en die troue by te woon. Werner het 'n groot vriendekring, en ek ken die meeste van hulle al vandat hulle saam op skool was. Van hulle het hulle ouers saamgeneem om na die kinders te help kyk. Dit was wonderlik om hierdie hele week so saam met vriende en familie te kon deurbring.

"Werner en Jo het 'n paar goed gereël wat almal saam kon doen. Op die eerste dag het ons in een van die vlak swembaddens by die hotel saamgekom vir 'n get together. Jo se pa, Johan Botha, het almal verwelkom en ons is in die swembad met skemerkelkies en eetgoed bedien. Ons almal moes wit dra! Selfs Jo se ouma van 92 was ook in die swembad...

"Die volgende dag het ons almal op 'n katamaran na 'n ander eiland gevaar waar ons gesnorkel het. Die see was taamlik rof en die meeste van ons het baie naar geword. Patrick het gelukkig geen foto's geneem van ouens wat oor die kant hang nie! Ná so 'n trip ken almal mekaar deeglik!

Van die ouens het een dag almal saam gaan gholf speel en die eiland verken. Die res van ons het net heeltyd op die strand gelê en aan cocktails gesuig en kyk hoe die kinders in die vlak water snorkel.

"Die troue self was Donderdag 27 Mei. Die troue was op die strand en die diens is waargeneem deur ds. Willie Kloppers, die predikant wat Jo gedoop en aangeneem het. Dit was 'n baie mooi diens, met die son wat so sak oor die water. Ek het vir hulle Koos du Plessis se "Gebed" gesing met Mel Botes wat my op die kitaar begelei het. Mel is ook 'n goeie vriend van Werner.

Die onthaal
"Die onthaal was ook baie besonders, en baie stylvol en pragtig. Al die damask-tafeldoeke en servette is hier gemaak en saamgeneem. Ook die kerse en kershouers, en ander kristalversierings is van hier af saam. Die twee trouekoeke óók. Die een koek was van sjokolade met 'n witsjokolade-versiering en linte met Werner en Jo se name daarop. Die ander een was 'n "koek" van drie groot kase opmekaar gepak en toe ook met wit versier. Die "koek" het ons solank geeët toe ons vir hulle gewag het, en Patrick het 'n paar foto's geneem.

'n Ma se raad
"Dit was 'n baie ontspanne troue met baie pret en liefde. Ek het nie spesifiek voor die troue enige raad aan Werner gegee nie. Hy ken my baie goed en weet hoe ek oor sekere goed voel. Sy waardesisteem is reg! Ek is ongelooflik dankbaar om so 'n pragtige skoondogter soos Johanna te kan hê. Hulle pas bymekaar en is sielsgenote. Ek bid dat hulle 'n wonderlike, geseënde huwelik sal hê.

Mooiste oomblik
"Ek dink die spesifieke oomblik van die troue wat my sal bybly, is terwyl ek gesing het, het ek vir hulle gekyk, en toe ek die uitdrukking op Werner se gesig sien, toe vergeet ek my woorde! Ek het myself darem weer gou reggeruk!
Carike se gunsteling-foto
Johanna op haar troudag

Trourokke, strooimeisierokke en Carike se uitrusting:
Henja Schaap
Manspakke:
Yihan van Y-NOT
Fotograaf:
Patrick Cloete

Carike & Olaus se troufoto

Klik om te sien