Sy wag my in toe ek deur die hek van die gryswit meenthuiskompleks in Johannesburg?ry. Sy stel haarself vriendelik voor.

Cecile Basson, ’n finansiële joernalis, lyk op haar gemak en gesels maklik.

Glad nie wat jy verwag van iemand wat oor ’n paar minute een van die grootste besluite van haar lewe met ’n vreemdeling moet deel nie.

Sy dra ’n glas water aan en vlei haar op een van die rusbanke in die leefvertrek neer – sorgeloos, byna.

Haar hare is vasgemaak. Net ’n paar slierte hang langs haar gesig. ’n Mooi vrou, met ’n warm glimlag.

In ’n poging om die moeilike gesprek te begin, sê ek baie dankie dat sy bereid is om hieroor te praat, dat sy braaf is. Dit kan nie maklik wees nie.

Sy lyk onkant gevang. Verras.

“Ek praat baie hieroor. Hoe gaan ons dit doen? Moet ek maar net wegval?” vra sy.

Toe vertel sy hoekom sy op 26 albei haar gesonde borste laat verwyder het.

Minstens ses vroue in Cecile, nou 27, se familie aan haar pa se kant moes al die borskankerstryd veg. Hoewel Cecile nie self gesien het hoe ’n enkele vrou daarteen stry nie, het haar ma, Marina Clark, die saadjie van kommer geplant. Sy het naamlik begin wonder of borskanker dalk geneties aan daardie kant van die familie is.

In Cecile se eerste jaar op universiteit het haar ma by ’n vriendin gehoor dat jy genetiese toetse kan laat doen om te kyk of?jy ’n sogenaamde “foutgeen” het: ’n mutasie op jou BRCA1- of BRCA2- gene. Dit veroorsaak dat die gene nie abnormale selle kan teenwerk nie en verhoog jou risiko op bors- en eierstokkanker.

Cecile het besluit om haar te laat toets. Haar bloed is eers ná sowat vyf konsultasies by dokters en ’n sielkundige getrek. (Sien kassie?onder dié artikel.) Sy moes eers verstaan wat die gevolge is sou sy wel die geenmutasie hê. Jou kans is dan 80% om borskanker te kry. As jy nie ’n mutasie het nie, is dit sowat 10%.

Die uitslag was positief.

Sy bly vir ’n oomblik stil. Sy kyk my stip aan en laat die skok van daardie dag insak.

Lees haar verhaal in die Julie-uitgawe van SARIE

Wanneer moet ek ’n genetiese toets oorweeg?

  • Jy het drie naby familielede (ouer, broer, suster, kind, ouma, oupa, tannie, oom, neef of niggie) aan dieselfde kant van die familie wat op enige ouderdom met borskanker gediagnoseer is.
  • Jy het twee naby familielede aan dieselfde kant van die familie wat onder die ouderdom van 60 gediagnoseer is.
  • Jou ma of suster is voor die ouderdom van 40 gediagnoseer.
  • Jou pa of broer is onder die ouderdom van 60 gediagnoseer.

Bogenoemde is slegs enkele riglyne vir borskanker. ?Kontak die Sentrum vir Familiële Kanker (012 328 2676) vir riglyne oor eierstokkanker.

Moet ek voor ’n mastektomie ’n sielkundige sien?

Dis nie ’n voorvereiste nie, maar ’n sterk aanbeveling. Jy het kundige sielkundige en mediese ondersteuning nodig. Dis ook belangrik dat daar ’n wagtydperk is tussen jou toetsresultaat en ingrypende chirurgie – jy moet eers vrede met jou besluit maak. Die wagtydperk verskil van individu tot individu.

Kan ek ná so ’n operasie steeds borskanker kry?

Ja, maar jou risiko is baie laer – dieselfde as vir ’n vrou wat nie ’n geenmutasie het nie.

Bron: Prof. Greta Dreyer, hoof van die eenheid vir ginekologiese onkologie, Universiteit van Pretoria

*Vir meer inligting oor genetiese toetsing, kontak prof. Maritha Kotze, Universiteit Stellenbosch:?021 938 9324; 082 879 9108; www.gknowmix.com

Die artikel het oorspronklik in SARIE GESOND Winter 2011 verskyn.