Die fiksheidsghoeroe Tracy Anderson is sinoniem met van die mooiste lywe in die vermaaklikheidswêreld - Gwyneth Paltrow, Madonna en Victoria Beckham tel onder haar volgelinge. Maar nou waarsku kenners: haar dieet- en fiksheidsplan kan baie gevaarlik wees.

Kenners het aan die Daily Mail gesê haar ekstreme diëte kan baie gevaarlik wees, want dit ontneem jou liggaam van belangrike voedingstowwe. Die aanbevole kalorie-inname vir ’n vrou per dag is 2 000 en vir mans 2 500. Maar op Tracy se eetplan kan jy sommige dae net 500 inneem.

tracy anderson en gwyneth paltrow

Vir weke mag jy net versapte vrugte en groente eet. Essensiële vette, soos gestoomde vis, is net soms op die spyskaart en koolhidrate word tot ’n minimum beperk. Boonop moet jy 6 dae van die week ’n streng oefenprogram van minstens ’n uur per dag volg, ten spyte van die lae voedsel-inname.

Kenners meen dié dieet kan baie gevaarlik wees en selfs tot anoreksie lei. Die Britse Dieetkundige Gemeenskap het ook onlangs hul kommer oor dié regime uitgespreek en gesê Tracy se celeb-status maak haar gevaarlike eet- en oefenplan gewild onder tieners.

Tracy het nog nie op kenners se bekommernisse gereageer nie.

Gwyneth het al gesê dat ’n detoks-program een keer so erg was dat sy begin hallusineer het. Daarna het sy vroue gewaarsku om nie op gevaarlike detokse te gaan nie. Nogtans het sy die nuwe jaar afgeskop met ’n detoks - dié keer in samewerking met ’n voedselkenner. Lees HIER wat Gwyneth op haar detoks mag eet. 

Bron: Daily Mail