Sien akteur Nico Panagio, weerleser Derek van Dam, sakevrou Annie Malan, en akteur en aanbieder Colin Moss op fietse deur die skilderagtige Kaapse Skiereiland ... Geen oëverblindery!

Hulle is onder tientalle celebs en duisende ander geesdriftiges wat op Sondag 8 Maart deelneem aan die Cape Argus Pick n Pay Fietstoer.

Almal ondersteun Pick n Pay se Race4Change om geld in te samel vir die onderskeie liefdadigheidsorganisasies wat aan dié kettingwinkel gekoppel word.

Vir Panagio lê The Compassionate Life Foundation na aan die hart. “Al wat my gefokus gaan hou deur dié dolle wedren, is die gedagte dat ek ’n verskil kan maak in die versorging van ons weeskinders.”

Die Amerikaner Van Dam sê Race4Change omsluit alles waarin hy glo. “Met my deelname wil ek gemeenskappe help wat my met ope arms verwelkom het.”

Malan trap 21 km “vir die pragtige vriende uit die diereryk” – die Animal Anti-cruelty League.

En Moss was tien jaar laas op ’n fiets! Maar ’n vriend het hom uitgedaag om deel te neem. Dis ’n manier om dankie te sê vir al sy seëninge, sê hy. Hy trap saam met Francois Pienaar vir laasgenoemde se Make a Difference (MAD), wat opvoedkundige geleenthede vir minder bevoorregte kinders skep.

Kyk watter ander bekendes is ook daar. Klik op onderstaande skakel.

Bron: https://www.race4change.co.za/pages/celebs.aspx