In die nuutste Vogue pryk ons mooi Charlene Wittstock. Sy vertel van haar en prins Albert se eerste ontmoeting. En hoe sy gesukkel het om in die internasionale styl-ikoon wat sy vandag is, te ontwikkel.

Om pal in die kollig te wees beteken dat jy altyd moet goed lyk. Veral by rooi-tapyt-geleenthede of koninklike gesellighede.

"Aan die begin was ek so onseker, ek het ander se raad en hulp verwelkom, maar nou het ek meer selfvertroue, ek waag meer en het my styl gevind," vertel sy aan Vogue. Iets wat natuurlik byna te moeilik is om te glo, aangesien sy een van die elegantste gaste by prins William en Catherine se troue in April was!

Karl Lagerfeld, die hoof-ontwerper vir Chanel, noem Charlene se styl in Vogue ’n vars bries wat deur Monaco waai. Hy het haar al meer as een keer op ’n fotosessie haar eie klere laat uitkies. “Dit het my selfbeeld, in terme van mode, die wêreld se goed gedoen,” sê sy.

Nou het haar mode-selfvertroue al soveel gegroei dat sy ’n modeweek in Monaco wil begin met ontwerpers soos Ralph Lauren en Stella McCartney aan boord. Volgens haar was Grace Kelly die oorbrugging tussen Monaco en Hollywood, maar sy wil die een wees wat Monaco een van die wêreld se grootste modestede maak.

Gevra wat Chris Viljoen, SARIE se mode-direkteur, van Charlene se styl dink, sê hy: "Sy het 'n pragtige styl, maar ek dink sy sit soms in 'n mode-dilemma. Sy is in die wêreld se paparazzi se oë, en terselfdertyd moet sy protokol volg, die ontwerpers se klere dra en steeds haar eie smaak inbring. Dit kan soms uitdagend wees, maar sy kry dit baie goed reg!"

Charlene Wittstock vir Vogue Charlene Wittstock vir Vogue