Watter tendens het jy onlangs op die rooi tapyt gesien waarvan jy gehou het?

Dit was een van die vrae wat SARIE in 'n eksklusiewe onderhoud aan Kate Hudson in Los Angeles gevra het . . .

"Vroue wat nié die jongste tendense volg nie, trek my aandag. Iemand wat getrou aan hul eie styl is, is die mense wat ek raaksien. Hulle lyk net vir my so wonderlik omdat hulle dra wat hulle wil. Ek het onlangs vir Charlize Theron by die White House Correspondents' Dinner [hooffoto bo] gesien, en sy het só mooi gelyk.

"Elke keer dat ek haar sien, lyk sy elegant en sjiek. Sy is altyd konsekwent in hoe sy lyk, en dít sien ek raak eerder as enige tendens."

Sommige noem 2012 juis "Die Jaar van Charlize". Sy het resensente gaande gehad in die fliek Young Adult wat vroeër dié jaar gedraai het.

Op 14 Mei was sy in Londen vir die wêreldpremière van Snow White and the Huntsman teenoor Kristen Stewart – die fliek wat alle verwagtinge tydens die openingsdag in Amerika oortref het.

Twee weke later, op 31 Mei, het sy weer in Londen 'n elegante draai gemaak vir nóg 'n wêreldpremière, die Ridley Scott-fliek Prometheus, teenoor Michael Fassbender. Soos in Snow White speel Charlize weer 'n karakter met 'n baie donker kant.

Sy is ook nou op pad na Namibië om te begin skiet aan die nuwe Mad Max-fliek, Mad Max: Fury Road.

En of sy met baba Jackson in haar arms uit haar private straler klim of op die rooi tapyt tydens een van haar fliekpremières verskyn, sy sit nie 'n enkele modevoet verkeerd nie. Die Dior-rok tydens die Snow White-wêreldpremière het die kollig gesteel. Selfs vir 'n gewone fotosessie vir dié fliek in Madrid het sy modekenners gaande gehad met 'n elegante rooi Giambattista Valli-slooprok met vou-detail op die skouers. Tydens die Prometheus-première het sy een van die gróótste kleure van die seisoen gedra – 'n Dior-rokkie in middernag-blou.

* Kyk deur Charlize se onlangse styl-oomblikke op die rooi tapyt.

* Wees op die uitkyk vir dié eksklusiewe onderhoud met bekroonde aktrise Kate Hudson in SARIE.