Dis Chrissy en haar sanger-man, John Legend, se tweede kind. Die pragtige model het die goeie nuus vanoggend op Twitter gedeel:

In 2016, ná die geboorte van hul eersteling, Luna, is Chrissy met postnatale depressie gediagnoseer.

Vir maande moes sy elke dag teen die trane baklei en het sy op ’n rusbank in die sitkamer geslaap. Sy’t nie verstaan wat met haar aangaan nie. Haar lyf was seer, sy was gedurig hartseer en kon soggens skaars opstaan. Om haar te ondersteun het John saam met haar op die bank gaan slaap. Daai Desember is Chrissy met nageboorte-depressie en angs gediagnoseer. Sy het ’n artikel daaroor vir die tydskrif Glamour geskryf.

In ’n onlangse onderhoud het Chrissy erken sy is bekommerd dit kan weer gebeur.

"Is ek bekommerd daaroor met hierdie seuntjie? Ek is. Maar ek voel as ek dit kry, is ek reg daarvoor. Ek het die perfekte groep mense rondom my. Dis hoekom ek daarin glo om sterk mense rondom jou te hê."

FOTO Instagram / Chrissy Teigen


Wat moet jy weet?

Daar is drie soorte depressie waaraan nuwe ma’s kan ly – postnatale blues, postnatale depressie en angs, en postnatale psigose.

Postnatale blues word gekenmerk deur huilerigheid en skommelende emosies. Dit duur gewoonlik vir net ’n paar dae ná die geboorte.

Postnatale depressie en angs is veel ernstiger as die blues. Die simptome kan jou lewe ernstig aan bande lê en van ’n paar weke tot maande of selfs ’n jaar duur. ’n Kombinasie van medikasie, terapie en ’n goeie ondersteuningsnetwerk word aanbeveel om dit te beheer.

Postnatale psigose is die “diepste blou” van die gees. Na raming kry een tot twee uit elke duisend vroue dit. Dit begin gewoonlik twee tot vier weke ná die baba se geboorte. Simptome sluit in versteurde gedagtes, erge depressie, manie en psigose. ’n Pasiënt kan ’n gevaar vir haarself en dié om haar inhou en moet dadelik gehospitaliseer word.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoe weet jy dat jy aan postnatale depressie ly?

As jy ’n hele paar van die volgende simptome ná die geboorte van jou baba het, is dit raadsaam om jou ginekoloog en/of psigiater te raadpleeg. Dit is bloot riglyne. Jy voel onder meer:

– Afgestomp en verwyderd van jou baba.

– Langer as sowat tien dae huilerig, hartseer en “af”.

– Sonder selfbeeld.

– Asosiaal en nie lus om mense te sien nie.

– Obsessief oor hoeveel slaap jy nie kry nie.

– Vergeetagtig en verloor dinge.

– Nie geesdriftig oor enigiets nie en kan niks geniet nie.

– Skuldig oor jou gevoelens as nuwe ma – jy het gedink jy sou heeltemal anders voel.

– Nie lus om jouself te versorg nie.

– Nie lus om vir enigiets te lag nie.

– Altyd bekommerd dat daar iets fout is met die baba, selfs al verseker almal jou alles is oukei.

– Asof jy alle begrip van tyd verloor het.

– Jy wil die baba en jouself beseer.

– Jy het geen belangstelling in die wêreld nie en jou energievlakke is altyd laag.

Bronne: Post Natal Depression Support Association, NHS Choices