Angelique, die nuwe aanbieder van kykNET se Boer soek 'n vrou, het dié geleentheid as ambassadeur van die 46664-armbande bygewoon.

Sy het ook vir Lutz Bethge, die uitvoerende hoof van Montblanc, wat bekend is om luukse bykomstighede, ontmoet, asook Robert Coetz, die brein agter die hele 46664-veldtog.

'n Groot foto van Angelique op 'n 46664-advertensie is nou in alle vooraanstaande Montblanc-winkels te sien, onder meer in Old Bond Road in Londen.

"Ek was vyf jaar gelede vir twee jaar in Londen, en toe sou ek nie in my wildste drome kon dink dat my gesig in Old Bond Road sou pryk nie," het Angelique opgewonde aan SARIE vertel. Daar is onder meer winkels van Alexander McQueen, Gucci en Chanel in dieselfde straat. "Ek voel so geseënd, dit is regtig ongelooflik. Ek dink nie dit het al behoorlik ingesink nie."

Die nuwe 46664-boek bestaan meestal uit foto's en verduidelik ook hoe die inisiatief ontstaan het.

Die 46664-inisiatief bied aan mense wat met MIV/vigs leef 'n kans om 'n inkomste te verdien. Hulle word geleer om juwele te maak en meer as 150 mense is al in permanente poste as juweliers in ondernemings aangestel.

Elke jaar word een besonderse armband, die Legacy, deur 'n ontwerper gemaak. Dié armband word dan opgeveil en die wins word aan kinders geskenk wat albei ouers weens vigs verloor het.

Vanjaar is die SA ontwerper Oresti Mavrodaris gevra om die Legacy-armband te ontwerp. Dit is gemaak van ysterhout met goue ringe om en aan die binnekant goue detail wat lyk soos boomtakke. Die armband is ook versier met diamante en ander kosbare stene. Dit is by 'n ander geleentheid vir R2 miljoen verkoop.