Hulle is rock-legendes wie se treffers nog elke dag oor die radio, op die kleinkassie, grootskerm en digitaal gehoor kan word.

Ja, die Britse rockgroep uit die sestigs The Beatles se musiek was revolusionêr. Liedjies soos “Yesterday”, “Hey Jude”, “Lucy in the Sky with Diamonds”, “Blackbird”, “Here Comes the Sun” en “Let it Be” het wêreldwyd ’n impak gehad - op die musiekbedryf, Westerse kultuur en ook gewone mense se lewens. 

UNITED KINGDOM - APRIL 01: Photo of BEATLES; L-R:
FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoe sou die wêreld gewees het as Paul McCartney, John Lennon, Ringo Starr en George Harrison se paaie nooit gekruis het? Verbeel jou hul 12 albums, wat die ikoniese Abbey Road insluit, is nooit gemaak nie ... die wêreld sou vir seker ’n valer en kaler plek gewees het.

Die Britse rolprentmaker Danny Boyle, bekend vir sy Oscar-bekroonde Trainspotting en Slumdog Millionaire, se nuwe fliek speel juis met hierdie gedagte.

In Yesterday is Jack Malik (Himesh Patel) ’n sukkelende musikant op die punt om moed op te gee. Ná ’n fratsongeluk kom hy iets skokkends agter: Niemand onthou The Beatles se liedjies nie en dis asof hulle nooit bestaan het nie. Hy begin die liedjies as sy eie sing en byna oornag is hy beroemd - maar dit eis ook sy tol.

Die Engelse roos Lily James, komediant Kate McKinnon en popster Ed Sheeran speel ook in die goedvoel-fliek, wat later vanjaar uitgereik word.

Kyk die lokprent hier:

5 feite oor The Beatles

1. Ringo Starr se regte naam is Richard Starkey.

2. Hul album Sgt Pepper’s Lonely Hearts Club Band is die Amerikaanse musiektydskrif Rolling Stones se nommer 1 op hul lys van die 500 beste albums wat ooit gemaak is.  

3. George Harrison en Paul McCartney ken mekaar van kindsbeen af. Hulle het op dieselfde bus skool toe gery.

4. Hul langste liedjie is “Hey Jude”. Dit duur 7 minute en 15 sekondes.

5. John Lennon was disleksies. 

UNITED KINGDOM - MAY 20: Photo of BEATLES; John L
FOTO Getty Images / Gallo Images