Dié goeie nuus het vroeër vandag op Darren se Twitter-blad gebreek. Eers die nuus dat hulle op pad was na die dokter, en toe die nuus dat hulle 'n seuntjie verwag.

Scott en sy vrou, Sarah-Kate, het in die Maart 2013-uitgawe van SARIE openhartig gepraat oor hulle donker tyd wat hulle deurgemaak het met hul eersteling, Mark, se kankerstryd.

Intussen is hulle net bitter dankbaar hul kleinding is klaar met chemoterapie. Die familie het sommer twee partytjies gehou om Mark se tweede verjaardag op 17 November te vier. Een partytjie was in Durban, waar hulle baie familie het, en een was tuis saam met hul vriende. Die tema was “Klaar met chemo, tyd vir Nemo” – Mark se gunstelingkarakter uit die fliek Finding Nemo.

“Ons is nou net ’n doodnormale gesin wat tyd maak vir mekaar,” sê Sarah. “Darren is dalk bekend vir sy werk, maar by die huis is hy net my Darren. En hy doen alles wat hy kan vir my en vir Mark.”

Baie geluk, julle!

FOTO: Twitter
Klein Mark volg al klaar in Pa Darren se voetspore.