Die pianis, die klavier & die liefdesbrief

Dit het begin by 'n liefdesverhaal wat hom glo sowat 80 jaar gelede in Suid-Afrika afgespeel het ...

’n Johannesburgse konsertorganiseerder raak verlief op ’n Britse pianis terwyl hy hier op toer is. Op die vooraand van sy laaste konsert, voordat hy na Londen sou terugkeer, laat sy vir hom ’n liefdesbrief in die konsertklavier se stoeltjie.

“As jy hier bly, my Lief, sal ek joune wees. Vir ewig,” gee Charl du Plessis sy verbeelding vrye teuels oor die inhoud van daardie brief ...

Sy grysblou oë vonkel terwyl ons in ’n koffiewinkel in Sandton gesels oor die storie agter sy nuwe toer, 10 Steinways, 10 Stede, 10 Solo-konserte.

“Maar hy het nooit haar woorde gelees nie,” sê Charl. “Verbeel jou, iewers in ons land, êrens in ’n verlate klavierstoeltjie, die plek waar niemand ooit kyk nie, lê dáái brief."

Die storie het hom aangeraak, vertel dié bekende pianis wat ook gereeld vir Nataniël begelei. "Dis so romanties. Die musiek, die verlore liefde, die misterie. Dit het my laat dink aan al die wonderlike musiekherinneringe van Suid-Afrikaners waarvan ons nog nooit gehoor het nie. Toe besluit ek, ek gaan daai brief ‘soek’,” vorm sy hande die aanhalingstekens.

Eintlik gaan hy, ter nagedagtenis aan die mooi verhaal, mense se musiekstories soek.

Sy toer (en soektog) skop Februarie in Kaapstad af en eindig Oktober in Johannesburg. Op SARIE se sosiale netwerke en op SARIE.com nooi hy mense uit om vir hom hul herinne- ringe te stuur, hetsy van die Steinway- vleuel in hul stadsaal waar hy gaan optree of hul eie klavierstories. “SARIE is die ideale platform omdat haar lesers daarvan hou om deel te wees van stories," sê Charl.

"Hoeveel mense is daar nie wat hul eie verhaal het om te vertel nie? Iemand wie se oupa altyd vir hom/haar liedjies gespeel of wie se seun uitmuntend op die klawers presteer het. In die meeste van die stede waar ek gaan optree, is die stadsaal se klavier stokoud. Daar is dalk mense wat al self agter daardie klavier ingeskuif het of kan onthou watter groot kunstenaars daar gespeel het.”

Deel jou klavierstorie met Charl du Plessis só: los kommentaar onderaan dié artikel in dié boksie wat só lyk

Screen Shot 2014-02-06 at 9.58.10 AM