Titel: Despicable Me
Regisseur: Pierre Coffin en Chris Renaud
Stemme: Steve Carell, Jason Segel, Russell Brand
Tyd: 95 minute

In ‘n gemiddelde woonbuurt, met groen grasperke, blaffende honde en gillende kinders is daar ‘n swart huis wat soos ‘n seer duim uitstaan. In daardie huis bly Gru (met Steve Carell se stem).

Onder dié huis, sonder dat enige iemand dit weet, is daar ‘n laboratorium en ‘n klein weermag van “minions” wat almal vir Gru werk. Gru is eintlik ‘n skurk wat beplan om ‘n ernstige misdaad te pleeg: Hy wil die maan steel.

Met behulp van sy vries-geweer, krimp-geweer, tenks en vliegtuie is niks veronderstel om in sy pad te staan nie. Nie eers sy aardsvyand, Vector, nie.

Tot die dag wat hy drie klein meisies, Margo, Edith en Agnes, ontmoet. Aanvanklik wou hy hulle eers in sy bose plan om die maan te steel, gebruik het. Die feit dat hulle die gawe ou wat diep binne in hom weggesteek is, raaksien, maak alles vir hom aansienlik moeiliker.

Die humor vang jou so half onkant wat dit baie gepas maak. Daar is ‘n paar karakters wat as verveeld geklassifiseer kan word, maar dit kan mis gekyk word. Die drie klein meisies maak op vir enige ander foute wat dalk op kan duik. Dis net nie die moeite werd om dit in 3D te gaan kyk nie.

Die hele gesin sal die fliek baie geniet. Selfs ma en pa!

Wat sê die stemme?

"Ek het hard gewerk om die aksent reg te kry. Ek wou verskillende lande se aksente inwerk sodat nie net een plek daaraan gekoppel kon word nie. Aan die een kant moet dit bietjie vreesaanjaend wees maar ook 'sweet' sodat kinders nie té bang sal wees nie," sê Steve Carell, wat die rol van Gru vertolk het. "Toe ek gevra is om die rol van Gru se ma te speel, was ek nie seker of ek dit kon doen nie. Sy is net so boos. Maar ek het besluit om dit te doen en het dit baie geniet," sê Julie Andrews.
 
"Ek het probeer om my stem jonger te laat klink om by die karakter te pas. En dis interessant hoe sy, aan die einde van die dag, nogal baie na my gelyk het," sê Miranda Cosgrove, wat die rol van Margo vertolk het.

Het jy geweet?

*  Terwyl Gru in die ruimte om die maan dryf, sien ons die nommer  072069 op sy Swan Lake kaartjie: Dit staan vir die datum 20 Julie 1969, die datum toe die eerste man op die maan geloop het.
*  Wanneer Gru by die "Bank Of Evil" instap kan die naam "Formerly Lehman Brothers" teen die muur gesien word
*  Die skrywers het die taal wat die “minions”  praat regtig opgemaak. Elke woord wat hulle sê vertaal in ‘n regte woord.