Vanity Fair kyk in hul September-uitgawe na Diana en die liefdes in haar lewe

Dit was nie prins Charles of Dodi Al Fayed nie. Dit was die hartchirurg van Pakistan Hasnat Khan. Hý het Lady Di se hart tot op die einde gehad, só berig Vanity Fair.

Jemima Khan, Diana se vriendin en voormalige vrou van een van Hasnat se neefs, vertel in die nuwe uitgawe van Vanity Fair Diana was smoorverlief op Hasnat en wou met hom trou - al het dit beteken dat sy in Pakistan moet woon. Die film Diana waarin Naomi Watts speel, fokus op die laaste twee jaar van Diana se lewe en veral op haar verhouding met Hasnat. Hasnat, wat bekend is vir sy stilswye teenoor die media, wou egter nie saam met die filmvervaardigers hieraan werk nie.

1005740_566495180059645_155881110_n_630w

Jemima vertel dat Diana twee keer Pakistan besoek het om te help om geld vir 'n hospitaal in te samel, maar sy was ook daar om Hasnat se familie te ontmoet. "Sy wou sien hoe moeilik dit gaan wees om in Pakistan aan te pas as hulle sou trou." Diana wou glo in die geheim trou, maar Hasnat het gedink dit is 'n slegte idee en het vinnig vir haar al die slaggate van haar plan uitgewys.

Tydens een besoek na Pakistan het Diana saam met Jemima en Hasnat se niggies na 'n familiehuis gereis. In die verkeer het omstanders haar begin erken. "Daar was sy, die ma van die toekomstige koning van Engeland sonder lyfwagte of drywers, ons was weerloos. Sy het eenvoudig die venster afgedraai en vir die omstanders gewaai," vertel Jemima. Dit was duidelik - nie eers in Pakistan sou Diana in vrede kon lewe nie.

Kort nadat Diana vir Dodi Al Fayed ontmoet het, het haar verhouding met Hasnat verkrummel. Sy het aan 'n vriendin en die voormalige direkteur van die luukse juweliershuis Tiffany & Co., Rosa Monckton, vertel dat Hasnat hul verhouding beëindig het en dat as Dodi vir haar 'n ring gee, dit op haar regterhand gaan wees. Sy het nie planne gehad om met Dodi te trou nie. Rosa is tot vandag toe oortuig dat Diana se verhouding met Dodi gebruik is om Hasnat jaloers te maak.

Hasnat het glo die verhouding beëindig omdat hy nie van die idee gehou het om in die media kollig te wees nie. Hy wou nie met haar trou om dié rede nie en wou ook nie 'n publieke verhouding hê nie.

Maar Hasnat se diskresie mag dalk sy grootste geskenk aan Diana wees. Almal verkoop haar storie en geheime. Diana het glo net voor haar dood gesê Hasnat is die enigste persoon wat haar nie sal verraai nie ...

Dié  artikel is geskryf deur Sarah Ellison vir Vanity Fair, September 2013.

Die voorbladfoto van Vanity Fair is 'n foto wat Mario Testino in Maart 1997 geneem het, 5 maande voor haar dood.