In 1998 het die Ierse hartebrekers Nicky Byrne, Kian Egan, Markus Feehily en Shane Filan hul boy band, Westlife, gestig. Oor die volgende paar jaar het die groep meer as 40 miljoen albums verkoop en in die proses die toekennings ingeryg.

Miljoene tienermeisies het gesnik toe hul paaie in 2012 skei.

Maar nou, ná sewe jaar se stilte, is Westlife terug met ’n splinternuwe liedjie! Die naam is heel gepas: “Hello My Love”.

Boonop is hulle nie die enigste seunsgroep uit die 90’s wat weer hul verskyning maak nie. Backstreet Boys gaan op 25 Januarie ’n nuwe album, DNA, uitreik.

AJ McLean, Howie Dorough, Nick Carter, Kevin Richardson en Brian Littrell het die groep in 1993 in Orlando, Florida, begin. Hulle het meer as 100 miljoen albums verkoop en hul musiek is ook verskeie kere bekroon.

Drie van hul nuwe liedjies, “Don’t Go Breaking My Heart”, “Chances” en “No Place”, word reeds oor die radio gehoor. Gaan hulle hul sukses kan herhaal?