Charlize Theron was gelukkig genoeg om in Hollywood "ontdek" te word nadat sy ’n vloermoer in ’n bank gegooi het. Maar sommige bekendes het eers ander ander werke gehad voor hulle op die silwerdoek verskyn het.

Hier's ’n paar bekendes wat eers ander loopbaanpaadjies gestap het:

1. Gerard Butler

Dié Skotse akteur het eers ’n graad in regte verwerf aan die Universiteit van Glasgow. Maar voor hy as prokureur kon kwalifiseer, is hy afgedank deur die firma waar hy sy internskap begin doen het. As werklose prokureur het hy op 25 Londen toe verhuis om te begin werk as akteur. Die res is geskiedenis.

2. Michelle Pfeiffer

Sy was besig om joernalistiek te studeer sodat sy eendag ’n hofverslaggewer kon word. Maar terwyl sy agter die kasregister in ’n plaaslike supermark gewerk het, het sy besef haar hart lê eintlik by toneelspel.

3. George Clooney

Dié silwervos wou eers ’n TV-joernalis geword het en het selfs by ’n kollege begin studeer. Maar toe los hy sy studies en word ’n skoenverkoper voor hy in Hollywood beland.

4. Rachel McAdams

Die Notebook-aktrise het vir drie jaar by McDonald's gewerk voor sy begin rolprente maak het.

5. Harrison Ford

Hy het nooit sy skoolloopbaan voltooi nie. Voordat hy ’n professionele akteur geword het, was hy ’n skrynwerker en het sy eie houtwerk-besigheid gehad.

Hier is hy as jong timmerman (regs):

FOTO: Facebook/Sergio Mendes FOTO Facebook/Sergio Mendes

Bronne: Lifebuzz, Buzzfeed