Dit is seker die naaste aan ’n koninklike troue náás ’n koninklike troue, het die Britse media gister berig. Dít is die troue van sir Richard Branson (die grootkop van Virgin) se seun en erfgenaam, Sam, met ’n Britse edele, Isabella Calthorpe.

En dié glansryke seremonie met ’n gastelys byna so indrukwekkend soos dié van Kate en William (talle edeles, onder wie William se niggies prinsesse Beatrice en Eugenie, het ook die troue bygewoon) het in Suid-Afrika plaasgevind. Dit is die ‘byna-koninklike troue’ gedoop.

Die seremonie is by sir Richard se private reservaat, Ulusaba, net buite die Krugerwildtuin gehou. Die media kon nie ophou berig oor die mooi natuurskoon nie. (Kyk die video onderaan die berig om te sien hoe dié luukse reservaat lyk!)

Maar waaroor al die bohaai?

Die pragtige Isabella is bekend as die meisie wat prins William se belangstelling van die hand gewys het. William het in 2007 ’n rukkie by haar vlerkgesleep terwyl hy en Kate ’n breuk in hul verhouding geneem het. Na bewering was Prins Charles so beïndruk met haar dat hy sy goedkeuring vir dié verhouding gegee het.

Isabella se jonger halfsuster is die einste Cressida Bonas wat op die oomblik prins Harry se hart vinniger laat klop. Hoewel Harry en Cressida verlede maand by Verbier, ’n luukse ski-oord, gejakker het en só die skindertonge laat klap het, het Harry besluit om nie die troue as haar metgesel by te woon nie. Blykbaar sal dit volgens hom te veel druk op hulle jong verhouding plaas.

En die bruidegom is die erfgenaam van die Virgin-biljoene. Die Bransons met hul fortuin van £3,4?biljoen (R46,47 biljoen) is die naaste aan sake-koninklikes wat daar is. Sam is ’n filmmaker, ’n voormalige model en na bewering ’n bietjie van ’n playboy.

Wie is die rolspelers?

Die bruid: Isabella Amaryllis Charlotte Anstruther-Gough-Calthorpe

Sy is na William en Kate se troue genooi, maar nie haar bruidegom, Sam, nie.

Sy is ’n aktrise wat in West End-produksies speel. Sy het ook al in verskeie gruwelprente gespeel.  

Ma van die bruid: Lady Mary Gaye Curzon

Sy is die dogter van die sesde graaf Howe en deel van die befaamde Curzon-familie. Sy self is ’n bekende en die ma van vier blonde skoonhede: Georgiana, Isabella, Pandora en Cressida. Sy was al vier keer getroud.

Pa van die bruid: John Anstruther-Gough-Calthorpe

Hy is ’n seun van ’n baronet. Hy het sy rykdom in die eiendomsmark verdien en is die voorsitter van verskeie maatskappye.

Mary en John is albei afstammelinge van koning Charles II. (Hy was in die 1600's koning van Engeland, Skotland en Ierland)

Suster van die bruid: Cressida Bonas

Sy is ’n dans-student en Harry se eerste ernstige meisie ná Chelsy Davy. Harry het verlede jaar saam met Cressida by Richard se private eiland, Necker-eiland in die Britse Maagde-eilande, vakansie gehou  net vóór sy opspraakwekkende Las Vegas-vakansie waar naakfoto’s van hom geneem is.  

Suster van die bruid: Gabriella Wilde

Gabriella is Isabella se stiefsuster uit haar pa se tweede huwelik. Sy is ’n Burberry-model én aktrise wat begin naam maak in Hollywood.

Die bruidegom: Sam

Dié 27-jarige is vyf jaar jonger as sy bruid. Hoewel hy die toekomstige erfgenaam van ’n lugredery is, is hy ’n omgewingsgesinde. Hy vervaardig dokumentêre rolprente en het sy eie produksiemaatskappy.  

Suster van die bruidegom: Holly Branson

Dié dokter was een van die min meisies wat Kate se hennepartjie bygewoon het.

Bron: dailymail.co.uk