Geliefde akteurs soos Anel Alexander, Nico Panagio, Diaan Lawrence, Sandra Vaughn en Paul du Toit sal in dié fliek te sien wees. Die storie kom uit die pen van Sandra Vaughn van Getroud met rugby-faam, en Anel en haar man, James, vervaardig die fliek. Joshua Rous behartig die regie.

Die storie gaan oor Jaci van Jaarsveld wat alles in haar vermoë probeer om die boetiek-advertensie-agentskap waarvoor sy werk te red uit die kloue van ’n roekelose sakeman bekend as “The Jackal”.

Sy hoop dat ’n bekende wynlandgoed-familie, wat moontlik ’n reuse-kontrak aan haar sal toestaan, die agentskap kan red.

Om die kontrak te kry is nie ’n maklike taak nie. Maar sy is bereid om enigiets te doen om te kry wat sy wil hê... sy oorreed selfs iemand om haar verloofde te speel sodat sy die kliënt kan beïndruk.  Op die landgoed begin dinge tussen Jaci en haar sogenaamde verloofde skeefloop, met skreeusnaakse gevolge.

“Ons is so opgewonde oor hoe die span die storie lewe gee. Die oudisies was skreeusnaaks! Ons weet net dat gehore gaande sal wees oor dié aspirerende 'glitzy' komedie, met wonderlike karakters, histeriese oomblikke en innemende storielyn,” vertel Anel en James Alexander, vervaardigers van Semi Soet.

Daar is vir sowat 18 maande aan die draaiboek gewerk en die hele span sien ongelooflik baie uit na die produksie van Semi Soet. Dit word in die Kaapse wynlande en in Johannesburg verfilm.

Vrystelling word vir 2012 beplan.

Hier's die eerste kykie na die voorprent van Semi-Soet: