Hollywood is 'n tawwe plek, maar dié Suid-Afrikaners het dit reggekry om voor én agter die skerms naam te maak.

Elize du Toit, aktrise (foto bo)

Dié Suid-Afrikaans-gebore aktrise is nou op die silwerdoek te sien as M se assistent, Vanessa, in die nuutste Bond-fliek, Skyfall. Sy het in 1994 saam met haar gesin van Pretoria na Berkshire in Engeland getrek. Sy was ook te sien in die sepie, Hollyoaks.

Sasha Pieterse, aktrise

Sasha Pieterse

Sasha is in Johannesburg gebore maar het in Las Vegas, Amerika, grootgeword. Sy't al as sesjarige TV-werk begin doen en is veral bekend vir haar rol as Alison in Pretty Little Liars. In 2004 is sy vir 'n Emmy oorweeg vir haar gasrol in House M.D.

Stelio Savante, akteur

Stelio Savante

Stelio is vir 'n Screen Actors Guild-toekenning benoem vir sy rol as Steve in die trefferreeks, Ugly Betty. Danksy 'n tennis-beurs het Stelio in 1990 in Amerika gaan woon. Hy het ook teenoor Russell Crowe in A Beautiful Mind (2001) gespeel. Dié jaar sal ons hom weer te siene kry in die fliek Where The Road Runs Out.

Jonathan Liebesman, regisseur

Dié Johannesburger was die regisseur agter verlede jaar se Wrath of the Titans met Liam Neeson en Rosamund Pike.

Jonathan Liebesman

Roger Michell, regisseur

Dié seun van 'n diplomaat is in Pretoria gebore, maar het in Damaskus, Beirut en Praag grootgeword. Hy moes weens 'n hartaanval as die regisseur van die fliek Captain Corelli's Mandolin onttrek. Maar sekerlik die bekendste fliek wat hy gemaak het, was die hoogs suksesvolle Notting Hill met Julia Roberts en Hugh Grant.

Stephen Goldblatt, filmoperateur

Goldblatt was die direkteur van fotografie op die bekroonde flieks soos The Help enJulie & Julia.

Ann Peacock, draaiboekskrywer

Ann is in Kaapstad gebore en het aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Dié bekroonde draaiboekskrywer het ondermeer gesorg vir The Chronicles of Narnia en Nights in Rodanthe met Richard Gere en Diane Lane.

Gary Levinsohn, vervaardiger

Dié Suid-Afrikaner het groot flieks soos Saving Private Ryan en The Patriot na die silwerdoek gebring.

Noel Langley, draaiboekskrywer

Die 1939-treffer, The Wizard of Oz, met Judy Garland was sy skepping. Hy is op Kersdag in 1911 in Durban gebore.

The Wizard of Oz

Guy Stodel, vervaardiger

Hy't beslis 'n voorliefde vir rillers! Stodel het die berugte The Texas Chainsaw Massacre asook Friday the 13th vervaardig.

Alan Ari Lazar, komponis


Van Mango Groove tot Sexy And The City! Die Johannesburgse musikant was destyds lid van die groep Mango Groove en het die musiek geskryf vir meer as 30 flieks en TV-reeks waaronder die bekende TV-reeks Sex And The City. Die bekende liedjie African Dream is deur hom gekomponeer. En asof dit nie genoeg is nie, het hy ook 'n roman, Roam, geskryf.

Bron: IMDB