Mooi, klein, sexy en Afrikaans. En toe word Michelle Botes een van die magtigste aktrises in die wêreld van Suid-Afrikaanse sepies!

Sedert sy haar eerste sepierol twaalf jaar gelede in Isidingo aanvaar het, was sy nog nooit nié op ons TV-skerms nie. Nou is sy terug as die feeks Cherel de Villiers-Haines in dié sepie nadat sy die afgelope twee en 'n half jaar die saggeaarde maar sterk Ingrid Jordaan-Koster in die M-Net- en kykNET-drama Binneland Sub Judice gespeel het.

En kykers kan nie genoeg kry nie. Hulle mis Michelle in Binneland, maar dis veral as Cherel - 'n rol wat sy voorheen ook agt jaar lank gespeel het - dat sy hulle aan haar voete het. Hoekom?

Daar is min aktrises wat 'n feeks soos Michelle kan speel, sê Ilse van Hemert, hoofskrywer van Isidingo.

"Michelle is net so 'n ikoon soos Joan Collins [wat die feeks Alexis Colby in die Amerikaanse sepie Dynasty gespeel het]. Sy speel die feeksrol op so 'n manier dat mans haar onweerstaanbaar vind en sy kan wegkom met moord. En dan het sy ook nog daardie husky stem. Sy verstaan die Cherel-handelsmerk.

Wat's die storie?

Is Michelle Botes geld betaal om terug te gaan Isidingo toe?

 

Michelle as aktrise vorm so 'n hegte eenheid met die rol van Cherel dat dit 'n wen-kombinasie maak."

Toe ons op SARIE se Facebook-blad vra of kykers Isidingo meer geniet noudat Cherel terug is, was die antwoord beslis ja, en baie mis haar nou in Binneland.

"Isidingo was nooit dieselfde sonder haar nie! Ek is so bly sy is terug. Sy is 'n uitstekende aktrise . . . ek bedoel, kyk net hoe verskil haar karakter in Binneland teenoor die een in Isidingo. Kan net 'n briljante aktrise soos sy wees wat dit oortuigend kan speel," was Chantél Snyman se kommentaar.

Michelle het self al aan SARIE gesê: "Ingrid het my bevry met haar morele waterpas, waar Cherel my op 'n heel ander manier bevry het juis deur haar bandeloosheid. Ek het in 'n mate sekere aspekte van Cherel se karakter uitgeleef, maar dit sággies geleef. Wat ek van haar geleer het, is wat 'n mens in jouself ontken - die malheid, die ding van jou eie kop volg."

Wat sê die ander akteurs?

As akteur het Michelle die tegniek van die sepie-genre bemeester, meen Dawid Minnaar, wat dr. Franz Basson in Binneland Sub Judice speel.

"Daar is 'n rouheid wat sy na haar rolle bring - dis 'n kombinasie van gesofistikeerdheid en gevaar. Sy het so 'n groot sepiester geword omdat sy die vele fasette van vrouwees verstaan en dit kan uitbeeld."

En Binneland se Stefanie?

Michelle se X-faktor is dat sy haar karakters met 'n geweldige passie speel, sê Rolanda Marais, wat Michelle se dogter, Stefanie Louw, in Binneland Sub Judice is.

"Sy laat net genoeg weerloosheid in haar karakters deurskemer sodat kykers deernis vir haar ontwikkel ongeag wat haar karakter aanvang. Michelle gee om vir die stories en wil dit op die beste manier weergee. Al werk sy al jare in die sepie-genre, is sy nie 'n verwaterde weergawe van haarself nie. En natuurlik help haar jong gees en skoonheid."

Jy sou dink dis intimiderend vir 'n jong aktrise om teenoor Michelle te speel.

Glad nie, sê Rolanda. "Michelle is plat op die aarde en vriendelik. Sy is ook 'n goeie voorbeeld van 'n enkelma. Haar verhouding met haar kinders [uit haar huwelik met die akteur en sanger Ian Roberts] is spontaan en oop."

Cara (21), Michelle se oudste, studeer by die AFDA-filmskool in Johannesburg om regisseur te word. Daniel (17) wil akteur word.

"Sy sê gereeld hulle laat haar lag en ek kan sien hoe haar liefde vir hulle haar die sagtheid en opregtheid gee wat haar as mens en aktrise spesiaal maak," vertel Rolanda.

Mense het Michelle 'n ruk lank SA se eie Demi Moore genoem vanweë haar verhouding met Chris Beasley (Len Cooper in Isidingo), wat sowat tien jaar jonger as sy is. Hulle is drie jaar gelede uitmekaar en deesdae is sy enkellopend.

Al die voorblaaie... SARIE, Woman&Home, Longevity, Top Billing, Destiny én True Love

Michelle bly oor alle kulture en grense heen gewild en dit maak haar nóg magtiger. Sy was al meer as een keer op SARIE en ander Afrikaanse tydskrifte se voorblad, maar ook al op die voorblad van die Engelstalige Woman&Home, Longevity, Top Billing, Destiny én True Love, lg. met oorwegend swart lesers.

Ná Michelle was daar nog nie weer 'n wit vrou op True Love se voorblad nie. Sy is duidelik een van die enkele bekendes wat in SA oor kultuurgrense wérk.

Op die Destiny-voorblad (in Desember 2009) was sy saam met vyf swart SA skoonhede wat bekend geword het vanweë hul TV-werk. Die voorbladartikel het Michelle en die ander vroue se sukses gevier as ambassadeurs vir internasionale skoonheidshuise. Sy was toe die gesig van Garnier Nutrisse Cream se Irresistible Berry-kleur.

Busi Mahlaba, wat destyds redakteur van True Love was, vertel sy het altyd haar instink vertrou wanneer sy besluit het wie op die voorblad moet wees. "Ek het nie vir 'n oomblik getwyfel dat ons lesers die tydskrif met 'n Michelle Botes-voorblad sou optel nie. Ek was reg. Hulle was mal daaroor.

"Een van die grootste TV-toekennings in die land is die Duku Duku-toekennings en veral True Love se lesers volg dit. Een jaar is Michelle nie net benoem nie, sy het gewen ook. Dis nogal 'n ding vir 'n wit vrou om dít reg te kry." (Dit was in 2005 as die beste on screen villain.)

Michelle se rol as Cherel het baie met haar gewildheid te doen, sê Busi.

"Sy het die feeksrol met mening gespeel, maar in die regte lewe is sy nederig en dankbaar vir wat sy het en waar sy is."

TV-kenners oor Michelle

"Die rol van Cherel is 'n geskenk vir enige aktrise," beaam Mitzi Booysen, hoofskrywer van Binneland Sub Judice, wat by Isidingo gewerk het toe die karakter ontwikkel is. "Ons het van die begin af geweet Cherel gaan 'n wenner wees, maar ek dink omdat Michelle die rol gespeel het, kon ons die karakter soveel verder vat en ook wys hoekom sy is wie sy is - haar sterk en swak punte."

Thinus Ferreira, vryskut-TV-joernalis,

glo nes akteurs flieks kan maak of breek, kan karakters TV-reekse maak of breek.

"Michelle Botes as Cherel de Villiers-Haines máák Isidingo. Dis net vir haar, Ntsiki Lukhele (Pamela Nomvete) van Generations en Kimberley (Chantal Stander) van Egoli wat mense op straat met hul handsakke wil slaan omdat hulle hul rol met soveel oortuiging gespeel het."

Die TV-bedryf in SA is klein, sê Thinus.

"Dis moeilik om werk te kry en dit te behou. Michelle kon dit regkry om haar loopbaan oor 'n lang tydperk suksesvol te bestuur."

Elsje Stark, Binneland Sub Judice

Dan is sy ook 'n "mense-mens", vertel Elsje Stark, vervaardiger van Binneland Sub Judice. "Dít is waarskynlik die rede hoekom sy oor kultuurgrense heen gewild is. Baie nuwelinge en selfs ervare sepiesterre kan by Michelle lig opsteek oor professionele gedrag. Sy is foutloos voorbereid vir opnames en bring daardie iets ekstra wat kykers se verbeelding aangryp."

Daar is 'n klomp onbeantwoorde vrae rondom Cherel en Isidingo het gevoel dit was die regte tyd omhaar terug te bring, sê Ilse van Hemert oor Michelle se skuif terug na dié sepie.

"Die feeks is die belangrikste karakter in 'n sepie. Ons was lank sonder 'n feeks en het stelselmatig aan die karakter Kimberly (Marisa Drummond) begin werk om daardie rol oor te neem. Nou is dit lekker dat ons twee feekse het om mekaar se gal te werk."

 

Wat sê die kykers?

André Dellow van Johannesburg

"Ons gewone mense moet maar stilbly en die vrede bewaar as iemand ons ontstel. Wat Cherel so indrukwekkend maak, is dat sy juis al die goed doen waaroor ons maar net kan fantaseer. As jy voor die kassie sit en Cherel se woede beleef, help dit jou om stoom af te blaas."

Paul Petersen van Pretoria

"Nadat Cherel in 2007 uit Isidingo is, het dit gevoel of die sepie 'n bietjie van sy betowering verloor het. Ek het selfs opgehou om daarna te kyk. Maar toe my skoonsuster onlangs vir my sê Cherel is terug, het ek dadelik ingeskakel. Sy maak Isidingo soveel meer opwindend. As Cherel betrokke is, is daar altyd drama. Michelle lééf die rol. Sy's so 'n goeie aktrise. Ek kan myself verbeel Cherel bestaan regtig. Ek is mal oor haar!"


L
ee-Ann Solomon van Kaapstad

"Isidingo se spark is terug. Cherel is sommer klaar besig om dinge omver te gooi. Ek is mal oor haar omdat sy die enigste een is wat die bose Barker Haines kan aanvat en intimideer. Die nuwe feeks, Kimberly, is niks in vergelyking met haar nie. As hulle teen mekaar te staan sou kom, sal Cherel kleingeld van Kimberly maak. Michelle speel die feeks uitsonderlik goed, veral wanneer sy daai gevaarlike kyk in haar oë kry..."