Dit was ’n rustige Sondagmiddag vir die konstabels aan diens in die Hollywood-polisiekantoor naby die luukse wonings van die sterre toe hulle verlede Sondag om 17:22 ’n noodoproep kry: Daar is ingebreek by Paris Hilton se huis.

In die afgelope paar maande is die polisie ook ontbied na die huise van onder meer Tom Cruise, Clint Eastwood, Kim Kardashian, Chris Brown en Justin Bieber.

Maar by geeneen van dié wonings was daar enige inbraak of gewapende roof nie.

Hierdie poets-oproepe wat nooddienste ontbied, staan bekend as swatting, omdat taakspanne soos die Swat-span soms betrek word by sulke gevalle.

En swatting is aan die toeneem in Amerika.

Diegene wat dié oproep plaas ‘steel’ soms die telefoonnommer van die persoon waarop dié ‘poets’ gebak word, sodat die polisie dink daar is ’n werklike aanval.

’n Seun wat die polisie ontbied het na Ashton Kutcher se huis is in hegtenis geneem nadat die polisie en ’n taakspan daarheen gehaas het om die vermeende ‘gyselaarsituasie’ te ontlont. In sekere Amerikaanse state kan iemand wat poets-oproepe na nooddienste maak tot 11 jaar tronkstraf kry.

Dié verskynsels is egter nie beperk tot die sterre nie, onlangs het politieke kommentators en selfs twee seuns deurgeloop nadat hulle in ’n onderonsie betrokke was.