Vanoggend het die slotbetoë in die Oscar Pistorius-saak begin. En Beeld berig dat Barry Steenkamp, Reeva se pa, vir die eerste keer langs sy vrou, June, in die hof is.

SARIE het by ander ma's wat dieselfde pad as June gestap het, gaan aanklop. Wat sal hulle vir June sê? Hoe leef jy daarmee saam as jou kind gewelddadig gesterf het?

Denise Goldin van Johannesburg wie se akteur-seun, Brett (28), agt jaar gelede op 16 April 2006 saam met ’n vriend op die M5-snelweg naby Mowbray, Kaapstad, doodgeskiet is, gee “informele berading” aan ouers wat ’n kind verloor het. Maar ook vir haar is “die rouproses nooit afgehandel nie, al leer jy dit wel beter hanteer”.

Denise Goldin dink nog elke dag aan haar liefling-seun, maar sy besef ook Brett sou nie wou hê dat sy ná sy moord ineenstort nie en eerder weer die lewe geniet.

“Ek onthou alles soos gister,” sê sy. Haar stem is hartseer, maar kalm. “Ek het alles van sy lewe geweet en besluit ek wil ook weet hoe hy dood is.” ’n Paar weke ná sy dood het sy Kaap toe gevlieg. Sy wou dieselfde roete volg wat haar seun en sy vriend die mode-ontwerper Richard Bloom daardie noodlottige Sondagoggend ervaar het.

“’n Polisiebeampte het my en ’n vriendin in die vroeë oggendure vervoer van Kampsbaai, waar Brett-hulle gekaap is, tot by die moordtoneel. Ek het my oë toegemaak. Dit was donker, soos in die kattebak waar hulle was. Ek het my probeer indink hoe bang hulle was.

FOTO: Phyllis Green FOTO: Phyllis Green

“Hulle is eers na die kabelkarstasie geneem, waar hulle hul klere moes uittrek. Toe is hulle na die moordtoneel. Ons is ook soontoe en dáár het ek op die grond en gras gaan lê waar hulle koelbloedig doodgeskiet is.” Met die reuk van grond en gras om haar het sy opgekyk en ’n paar straatliggies gesien. Sy het gebid.

“Toe het ek minstens geweet wat hy gesien het net voor hy dood is.” Eers toe kon sy aanbeweeg. “Ek móés dit doen, hoewel dit nie afsluiting gebring het nie. Dít het ek nou nog nie.”

Brett se dood het die gesin hard geslaan. Drie maande daarna is borskanker boonop by Denise gediagnoseer. “My man en sielsgenoot, Peter, het ook bitterlik getreur. Soms het hy net in Brett se kamer gehuil, met ’n trui van hom in sy hand. Nege maande later het hy gesterf aan ’n gebroke hart. My borrelende dogter, Samantha, ’n bedryfsielkundige, is steeds net ’n skaduwee van haar ou self.”

Denise het egter geweier om ’n slagoffer te word. Terwyl sy nog bestraling vir borskanker gekry het, het sy reeds aan ’n optog teen geweld in Johannesburg deelgeneem. Einde 2006 het sy ook The Worst Club in the World (www.theworstclubintheworld.org) begin. “Dit is ’n ondersteuningsnetwerk waar mense wat kinders verloor het, mekaar ondersteun. Ek het só al hope vriende gemaak.”

Denise glo sy is nou toegerus om moeilike lewensvrae te beantwoord. “Natuurlik het ek gewonder hoe ’n God van liefde tsoenami’s, die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog en my onskuldige kind se moord kon toelaat. Maar ek glo aan die hiernamaals, dat dinge om ’n rede gebeur. “Ná die dood van ’n kind moet jy van vooraf leer hoe om jou lewe te beplan, want jou liggaam voel asof dit ’n gapende wond het wat nie gesond word nie.’’ Al die “eerstes” beskryf sy as “afgryslik”: Pasga (die Joodse Paasfees), Brett se verjaardag, haar verjaardag . . . “Maar ek en Samantha maak nou ’n okkasie van sy verjaardag. Ons steek kerse aan, maak lekker kos, nooi al sy interessante vriende en praat die heelaand oor hom."

Die lekkerste is as hulle vertel hoe hulle Brett mis. Ek wil nie hê hy moet vergeet word nie

Sielkundige terapie en antidepressante het Denise baie gehelp met haar helingproses. Tog was dit bitter moeilik om weer in te skakel by die lewe. “Die eerste paar maande ná ’n groot trauma leef jy van uur tot uur. Later van dag tot dag. Jy moet net aanhou.”

Aanvanklik het sy woedend geraak wanneer sy verby ’n eetplek stap en die mense hoor lag. Dan wou sy gil: “Hoe dúrf hulle? Brett is vermoor! Weet hulle dit nie?” Dan het sy maar verder gestap met die pyn in haar.

Tog het Denise stadig maar seker weer haar ritme teruggekry. Dit voel tóg of die mooi herinneringe aan Brett haar moed gee. “Jy weet, toe ek jonger was, was ek ’n sakevrou . . . dit was net vergaderings en ’n rondhollery. My kind met die gentle soul het my geleer om liefde te wys. “Ná sy dood het ek besef môre is nooit gewaarborg nie. Jy moet tyd maak vir mense. Sê altyd dankie, glimlag baie, wys vir mense dat jy hulle liefhet. Leef in die nóú.” Denise is opreg dankbaar dat Brett se naam verewig word deur die Brett Goldin-beurs, wat deur die Baxterteater in Kaapstad en die Royal Shakespeare-teater in Stratford-upon-Avon in Brittanje geadministreer word. Die beurs wat ná sy dood ingestel is, gee twee verdienstelike Suid-Afrikaanse akteurs elke twee jaar die kans om ses weke lank aan die Royal Shakespeare Academy in Londen te studeer. Sy is ook oneindig trots op die Brett Goldin-trofee vir beste nuweling wat sedert 2007 by die Naledi-teatertoekennings uitgedeel word.

“Ja, jy beweeg aan, maar sommige nagte lê ek in my bed en twyfel aan my geestelike gesondheid.’’

AUGustus aug elma smitShireen de Waal (haar dogter Louise is in 2011 vermoor) en Juanita Lotz (haar dogter Inge is in haar wooonstel op Stellenbosch vermoor) gesels ook oor die pad wat hulle elke dag moet stap in die Augustus-uitgawe van SARIE - nóú op die rak.

Laai die uitgawe digitaal af - klik HIER.