Die voormalige karwag Alen Abrahams het tydens die Wêreldbeker Sokkertoernooi in Kaapstad toeriste vermaak deur vir hulle te sing. Een van die toeriste, Stacey-Lee Roberts, het hom op kamera vasgevang en van daar het Alen se lewe ’n wending geneem.

Stacey-Lee het dié video op YouTube gelaai en vinnig het die kykersgetal gestyg.

Aan die begin van dié maand het die radio-omroeper Aden Thomas vir Alen op sy radioprogram op Heart 104.9 FM genooi. Dié radiostasie het 5 van sy liedjies opgeneem en op die internet geplaas wat van Alen nóg ’n groter celeb gemaak het.

Alen gebruik die wysies van bekende liedjies, maar verander die woorde na humoristiese lirieke. Die lirieke spreek egter ook maatskaplike probleme soos armoede en huishoudelike geweld aan.

Nadat hy op dié radiostasie verskyn het, het hy aanbiedinge van twee musiekvervaardigers gekry, berig Times Live.

Die 31-jarige pa van twee erken hy was ’n dwelmverslaafde, maar dat hy sy lewe vir sy twee kinders verander het. Op sy dogter se verjaarsdag vroeër die maand het hy sy wense vir haar uitgespreek: “Ek het nog nooit ’n partytjie in my hele lewe gehad nie. Ek het nog nie eens ’n verjaarsdagkoek gesien nie – dit is die dinge wat ek wil hê hulle moet hê.”

Een van sy liedjies, “Meisie”, het veroorsaak dat hy die aandag van die internasionale musiek-industrie getrek het. Dié liedjie is ’n parodie van Justin Bieber se “Baby” en is van YouTube verwyder weens kopiereg-kwessies. Dit is intussen weer opgelaai.

Met sy toenemende gewildheid het Heart 104.9 FM en die Kaapstadse Internasionale Lughawe besluit om vir Alen na Doebai te stuur om Stacey-Lee, die vrou wat die eerste keer sy video op YouTube gelaai het, te ontmoet, berig Cape Argus.

Kyk ook die insetsel oor Alen Abrahams vanaand op Kwêla (DStv-kanaal 144) om 19:30.

Hieronder is een van Alen se liedjies: