Op dié video, wat die skinderblad TMZ in die hande gekry het, word Beyoncé, haar man, haar suster en lyfwagte in die hysbak gesien. Soos wat hulle instap lyk alles rustig, maar vinnig begin Solange vir Jay-Z aanval. En Beyoncé doen nie veel om haar te keer nie. Die lyfwag keer vir Solange, maar sy kry steeds ’n paar klappe en skoppe in. Die insident het ná verlede week se MET Gala gebeur. Die rede vir die rusie is nog onbekend, maar bronne sê aan TMZ dat die susters ná die insident by die Standard Hotel in New York saam in ’n motor weg is. Jay-Z is alleen in ’n ander motor weg. Sedert dié aanval is Beyoncé en haar man saam in die publiek gesien, onder andere by ’n basketbalwedstryd. Beyoncé en Jay-Z vroeër die aand by die MET Gala

Beyoncé en Solange tydens die MET Gala

Waarom wil ons sien hoe mense baklei?

Dié video het gister vinnig oor die internet versprei. Dié video op YouTube is byna 5 miljoen keer gekyk. Daar is ook ’n langer weergawe wat byna 2 miljoen keer gekyk is. Die syfers sluit nie die kykers in wat die video op TMZ se webtuiste self gekyk het nie. Maar waarom het dié video so vinnig versprei? Dit is nie ’n lekker video om te kyk nie. Maar waarom klik meer as 10 miljoen mense in minder as ’n dag dan daarop? Die joernalis Alyssa Rosenberg van Washington Post meen dis menslike natuur om te wil sien hoe bekendes – wat hard werk om ’n sekere beeld aan die publiek voor te hou – ook faal en net mens is. Dan is daar ook die gevoel van morele superioriteit wat daarmee saamgaan …die ek-sal-dit-nooit-doen-nie-houding. Maar buiten die feit dat dit oor bekendes gaan, is daar iets meer aan dié storie. Daar is ’n rede waarom ons so geïnteresseerd is in werklikheidsreekse. Ons wil sien hoe ander lewe. En ons wil sien hoe hulle reageer as hulle nonsens droogmaak. Dalk wil ons só meer van onssels leer.

Waarom dink jy het dié video so vinnig versprei? Hoekom wil mense dit sien? Los kommentaar onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad.

Bronne: TMZ en Washington Post