Sy is die dogter van 'n ongevalle-dokter en het in 'n Christenhuis in Amerika groot geword. Ná sy as topstudent in 2007 skool klaargemaak het, het sy gesê sy wil by Peace Corps gaan werk.

"Die rede hoekom ek haar so goed onthou is omdat sy dierbaar en slim was," het Amos Trout Paine, 'n kunsjuffrou by dié skool, vertel.

Nou staan Katie, soos haar familie en vriende haar noem, bekend as die Boston-bomplanter-se-weduwee.

Haar man en sy jonger broer, Dzhokhar Tsarnaev (19), is verdagtes in die Boston-bom-saga.

Katie Russell en haar dogtertjie (Tamerlan se kind) het teruggetrek na haar ouerhuis. Sy't nog nie 'n woord aan die owerhede wat haar wil ondervra gerep nie, maar haar prokureurs het gister (Dinsdag 23 April) 'n verklaring uitgereik:

"Die gebeure het 'n enorme impak op Katie en haar familie gehad. Hulle is baie hartseer, veral oor diegene wat dood of beseer is tydens die voorval. Die gerugte dat haar man en sy broer by die voorval betrokke was, het die hele familie geskok," lui die verklaring.

"Sy huil die hele tyd," het 'n familie-bron gesê. "Sover ek weet het Katie geen kennis gedra van wat Tamerlan besig was om te beplan nie."

Ná hoërskool het Katie gaan studeer by Suffolk Universiteit in Boston, sowat 90 minute se ry van waar sy gebly het, en binne 'n paar jaar het mense na aan haar agtergekom sy's anders.

"Sy't kontak verloor met baie van haar vriende," het 'n familiebron vertel. "Sy het stil en teruggetrokke geraak, en dit was nie hoe ons haar geken het nie."

Katherine en Tamerlan het mekaar in 'n nagklub ontmoet. Só het Katie se prokureur in die verklaring gesê.

"Hulle het vir 'n rukkie uitgegaan. Toe opgebreek, en wéér uitgegaan," vertel hy. Katherine het die Islam-geloof aangeneem en op 21 Junie 2010 met Tamerlan getrou. In daardie selfde jaar het sy haar studies opgeskop, en die paartjie se babadogtertjie, Zahara, is gebore. Katherine en Tamerlan het toe by sy ouers en broer ingetrek. Maar sy't nie veel van Dzhokhar gesien nie, want hy was in die koshuis.

Ná Zahara se geboorte het Katherine lang ure as gesondheidswerker deurgebring. "Sy was regtig mal oor dié werk," het 'n familiebron gesê. "Ek dink dit was die één ding wat sy sonder Tamerlan kon doen," het die familiebron nog gesê.

Die prokureur het weer verklaar dat Katherine nie bewus was van haar oorlede man se planne nie, en dat sy diep geskok is deur die voorval.
"As 'n ma, 'n suster, 'n dogter en 'n vrou rou Katie oor die verlies wat soveel mense nou moet deurmaak. Sy, haar dogter en haar familie probeer nog sinmaak uit wat gebeur het," lui die verklaring.

Vir nóg, klik by www.people.com

Kyk ook die video: