Sy is al met 36 toekennings bekroon. Twee daarvan is die gesogte Oscar-beeldjie, albei vir beste aktrise vir haar spel in die rolprente Boys Don't Cry (1999) en Million Dollar Baby (2004). Die Amerikaanse aktrise Hilary Swank loop oor van talent.

In 2000 wen Hilary Swank haar eerste Oscar vir beste aktrise vir rol in 'Boys Don't Cry'. FOTO Getty Images / Gallo Images

Maar vir drie jaar het Hollywood haar nie met 'n oog gesien nie. Sy was in 2014 laas in 'n hoofrol te sien, in die fliek You're Not You. Eers verlede jaar het sy 'n paar treetjies teruggegee in die rolrentwêreld toe sy in kleiner rolle in Logan Lucky en 55 Steps was.

In 2005 wen Hilary Swank haar tweede Oscar vir beste aktrise vir haar rol in "Millon Dollar Baby". FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoekom het dié bekroonde aktrise Hollywood tydelik gegroet? Om haar geliefde pa, Stephen Michael Swank, te versorg. Hy moes 'n nuwe long kry nadat dokters hom andersins net 'n paar maande gegee het om te leef. Gelukkig het hy 'n geskikte skenker gekry en die oorplanting was 'n sukses. Die herstelpad was egter lank en moeilik, en daarom het Hilary besluit om haar loopbaan eers opsy te sit.

Sy het die afgelope week in die laatnag-program The Late Show with Stephen Colbert daaroor oopgemaak.

"Jy's 'n goeie dogter," het die aanbieder Stephen Colbert gesê.

"Wel, hy's 'n goeie pa," het Hilary geantwoord.

In 2015 het Hilary op HuffPost Live verklap dat sy haar pa alleen versorg. Hy het by haar ingetrek. 

Hilary Swank saam met haar pa, Stephen. FOTO Instagram / @hilaryswank

Vanjaar gaan sy in twee flieks en 'n Amerikaanse TV-reeks, Trust, te sien wees. Die bekroonde Danny Boyle het die reeks se regie behartig. Dit handel oor die ontvoering van die miljardêr J. Paul Getty se 16-jarige kleinseun Paul Getty III in 1973.

'n Fliek, All the Money in the World, wat ook oor die ontvoering handel, is verlede jaar uitgereik. Christopher Plummer, in die rol van J. Paul Getty, is by vanjaar se Oscars benoem vir beste manlike byspeler.

Hilary gaan in die reeks die rol van die ontvoerde Paul se ma, Gail, vertolk. In die fliekweergawe is dit deur Michelle Williams gespeel.

Kyk die volledige onderhoud met Hilary hier: