Uiteindelik! Gaan Invictus of gaan Invictus nie? Is dit Morgan Freeman en/of Matt Damon se aand of nie? Wat van District 9? En gaan die Suid-Afrikaanse a cappella-groep Overtone sing of nie?

Dis die vrae wat knaag – so saam met die senuwees. Want dié jaar is 'n goeie jaar vir Suid-Afrika!

Die Oscars is Hollywood se aand van absolute glitz and glam. Almal wonder wat die liefling van die 2010-toekenningseisoen, Sandra Bullock, gaan dra? InStyle het ook gaan kyk na die top-10-rokke van die laaste paar jare.

Ons wonder ook: Waar bêre die wenners hul beeldjies? Penélope Cruz vertel in die nuutste uitgawe van SARIE dat sy hare vir 'n ruk lank oral saam met haar geneem het – selfs strand toe. "Ek was soos 'n vyfjarige wat uiteindelik 'n speelding gekry het waarvoor ek so lank al wag." Sy het 'n Oscar gewen as die vurige eks-vrou in Woody Allen se fliek Vicky Cristina Barcelona. Sy is nou weer benoem vir haar rol in die musiekblyspel Nine.

Cate Blanchett se beeldjie staan in haar studeerkamer, Hilary Swank s'n pryk in die familiekamer, Jodie Foster hou haar beeldjies in die badkamer en Tom Hanks s'n staan op die rak langs sy vrou se "wêreld se beste ma-toekenning".

Die volgende sterre gaan almal pryse uitdeel:

Sandra Bullock
Gerard Butler (is hy die volgende mnr Jennifer Aniston?)
Steve Carell
Bradley Cooper (en is hy die volgende mnr Renee Zellweger?)
Miley Cyrus van Hannah Montana-faam
Die über-stylvolle Tom Ford
Ryan Reynolds (mnr Scarlett Johansson)
Kristen Stewart van Twilight-faam
Barbara Streisand
onse eie Charlize Theron

Die mede-aanbieders is grapjas Steve Martin en Alec Baldwin.

Vir dié Oscar-verslaafdes onder ons: Toets jou Oscar-kennis hier.

Moenie dié skouspel op M-Net misloop nie: Maandag 8 Maart om 19:30. En as jy nog nie Slumdog Millionaire, verlede jaar se Oscar-wenner, gesien het nie, kyk dit Sondagaand om 20:00.

Bronne: www.oscars.org, instyle.com