RSG se Johan Rademan is nie die enigste een in dié gesin met ’n sielvolle stem nie. Sy dogter Maria sing deesdae in ’n nuwe Afrikaanse musiekduo, TWEE.

Maria, ’n onderwyseres in Afrikaans, drama en sang by Durbanville Hoërskool, en Herman Kleinhans ken mekaar al vir twee jaar, maar hulle het eers sowat drie maande gelede - kort voor vanjaar se Absa KKNK - TWEE begin.

Maria vertel dat haar droom nog altyd was om haar eie koor af te rig. "Ek is nie ’n solo-kunstenaar nie, ek het nie gedink ek sal ooit ’n sangeres wees nie," vertel sy nederig.

"Sy't nog altyd ’n voortreflike oor vir musiek gehad. Dit skep altyd gesonde afwagting wanneer sy ’n projek aanpak," sê pa Johan. Hy reken Maria, die oudste van sy vier dogters, het haar sangtalent by haar ma, Marianne, gekry. Marianne het op haar dag glo self goed gesing én dwarsfluit en klavier gespeel. Hy meen die mooiste is wanneer al die vroue in sy gesin saam sing.

Maria en Herman het pas hul eerste lied op die musiekblad, Soundcloud, gedeel. Dié lied, "Vloed", is binne die eerste dag al meer as 1 000 keer geluister.

"Dit voel onwerklik," sê sy hieroor.

Maria Rademan en Herman Kleinhans het die musiekduo TWEE begin. Een van Maria, 'n onderwyseres, se leerlinge het dié foto's geneem FOTO: Chloë Botma Maria Rademan en Herman Kleinhans het die musiekduo TWEE begin. Een van Maria, 'n onderwyseres, se leerlinge het dié foto's geneem
FOTO: Chloë Botma

Maria en Herman beskryf hul musiek as folk, aangesien alles wat hulle doen lewendig is. Boonop is die soort trom wat hulle gebruik en die manier waarop Herman kitaar speel eie aan dié musiekstyl.

"Ons luister self ook na dié soort musiek," sê sy en noem Mumford & Sons, The Lumineers, Of Monsters & MenImagine Dragons en Civil Wars as voorbeelde. "Ons wil Suid-Afrika se Civil Wars wees," wei sy uit oor dié Amerikaanse sangduo wat bekend is vir liedere soos "Poison & Wine", "Barton Hollow" en "If I Didn't Know Better".

En haar pa, radio-legende Johan Rademan, se rol in haar musiek?

"My pa hou altyd ’n goeie afstand. Ons het nog nooit iets bereik oor wie hy is nie," sê sy. Sy geniet dit egter om haar musiek met Johan te bespreek. Johan sê ook die beste manier waarop hy Maria kan ondersteun, is om juis nie in te meng nie.

"Maar te oordeel na van die werk wat ek al gehoor het, speel hulle beslis in ’n hoë liga. Hulle krap hul eie potjie en tokkel op hul eie snare," vertel hy. Hy beskryf TWEE se musiek as nuut en innoverend.

"Hy is baie krities en gee nie ’n vals indruk nie. Hy sê eerlik uit ’n professionele oogpunt wat hy dink en ek waardeer dit baie," vertel Maria oor haar pa se bydrae tot haar musiek.

Nuuskierig oor TWEE se eerste lied? Volg dié skakel om daarna te luister.