"Selfontdekking, selfaanvaarding, vergifnis en genesing ... ek dink dit is iets waardeur elke liewe mens op die planeet al moes werk." Só gesels die aktrise, vervaardiger en draaiboekskrywer Donnalee Roberts in die jongste agter-die-skerms-video van Stroomop.

"As jy in die lewe kan leer om te vergewe en te laat gaan, dan eers gaan genesing plaasvind."

'n Toneel uit Stroomop. SKERMGREEP Stroomop

Stroomop, wat vandag oor 'n maand uitgereik word, handel oor vyf vroue wat elk met hul eie seer worstel. Donnalee vertolk een van die rolle.

Nog 'n tema volgens Ivan Botha, regisseur en mede-skrywer, is lewe en dood.

"Letterlik en figuurlik ... metafories. Ons ontmoet ons karakters gebroke, dood aan die binnekant. Hulle moet dan op hierdie reis gaan, 'n letterlike lewe-en-dood-situasie. Hulle moet dit oorkom, om heel anderkant uit te kan kom."

SKERMGREEP Stroomop

Dis die derde fliek uit die pen van Ivan en Donnalee. En hulle beloof 'n fliek vol avontuur, pragtige natuurtonele en volronde karakters. Hoe lekker is dit nie dat die vyf hoofkarakters vroue is nie? En boonop is dit karakters met wie ons kan identifiseer. 

SKERMGREEP Stroomop

Ook in die rolverdeling is Ilse Klink, Simoné Nortmann, Carla Classen, Chanelle de Jager, Armand Aucamp en die Oranjerivier - want daai magiese rivier verdien ook erkenning.

Die regisseur Ivan Botha saam met die vyf Stroomop-vroue. FOTO Instagram/ Stroomop

Wat is die hart van Stroomop? Luister en kyk hier:

SARIE is 'n trotse mediavennoot van Stroomop.