Die splinternuwe Afrikaanse fliek Pad Na Jou Hart, met Ivan Botha en Donnalee Roberts in die hoofrolle, begin vanaf 14 Februarie 2014 op die grootskerm wys en SARIE is 'n trotse mediavenoot.

Waaroor gaan dit?

Basson van Rensburg (Ivan Botha), 'n jong, aantreklike en selfvoldane besigheidsman, het vyf dae om by sy pa se begrafnisdiens in Kaapstad uit te kom, maar hy moet sekere take voltooi op hierdie reis voordat hy die suksesvolle familie-maatskappy kan oorneem. Sy enigste kans om betyds daar aan te kom, is 'n saamrygeleentheid met die beeldskone boheemse meisie, Amory (Donnalee Roberts).

Soos hulle deur die asemrowende natuurskoon van Suid-Afrika reis, ontmoet hulle wonderlike karakters wat sorg vir lekkerlag-oomblikke en lewensveranderende ervarings.

Om weer in die liefde te glo, was nie deel van een van hulle twee se plan nie, maar hulle kan nie help om te besef dat met elke draai wat hulle die lang pad af Kaap toe maak niks nog ooit meer bestem gevoel het nie. Hul veiligheid word skielik bedreig wanneer 'n ‘donker’ figuur met sy eie agenda hulle op sy motorfiets inhaal. Basson en Amory word gekonfronteer met teleurstelling, hartseer en die wete dat op jou lewenspad dit onvermydelik is dat jy 'n paar slaggate gaan teëkom of verkeerde afdraaie gaan neem.

Maar maak nie saak hoe moeilik die pad mag wees nie, op pad na ware liefde, is waar jy jou ware noord sal vind. Pad Na Jou Hart is 'n romantiese avontuur-film wat jou sal laat lag, huil en verlief raak op verlief wees. "Die mees romantiese fliek van die jaar."

VOLG Pad Na Jou Hart op Facebook of op Twitter @padnajouhart

ss_cinema_poster_v1