SARIE.com het sopas eksklusief  verneem dat Jannie Moolman se derde operasie ook ’n sukses was, en sy meisie, Melissa-Jo Sharpe, praat ook. Die bewerings dat hy uit ’n venster geval het, is tot op hede nog nie bewys nie. 

In ‘n kort operasie, wat die sanger Jannie Moolman vanmiddag ondergaan het, het ’n plastiese chirurg aan sy oogbank gewerk om ’n snymerk en operasiemerke daaraan te herstel. Die operasie was ’n sukses. Vroeër die week is daar ook suksesvol geopereer aan sy hand en aan beenfrakture in sy gesig.

Sy vriendin Melissa-Jo Sharpe sê:

"Jannie se familie, vriende en medewerkers in die musiekbedryf se fokus en wens is tans dat hy so vinnig moontlik herstel en gesond word. Alle energie gaan daarin om hom hierin te ondersteun.

Daarby is  teenstrydige gerugte en bewerings oor hoe die aand van sy beserings sou gebeur het, ’n groot jammerte. Ongelukkig was daar ook reeds berigte met onwaarhede in. Die aard van sy beserings is so dat daar nie nou al finaal gesê kan word dat hy het deur ’n venster geval het nie. Die moontlikheid dat iemand vir sy beserings verantwoordelik is, is dus ook iets wat ondersoek word.

Dit sou onvanpas wees om aan al die gissings mee te doen voordat ’n behoorlike ondersoek plaasgevind het. Wanneer vollediger inligting ingesamel is en Jannie ook die geleentheid gehad het om sy weergawe te gee, kan meer moontlik gesê word,” sê sy.