“Ek het Cezanne Woensdag gesien en sy het eers verskriklik gehuil. Ek het haar probeer kalmeer en gesê ons het so min tyd saam, ons moet dit kwaliteittyd maak.” Dit was vir Cezanne Visser se ma, Susan Lemmer, vanselfsprekend ’n nagmerrieweek. “Hoe slaap mens as jy weet jou kind slaap vannag in die tronk? Ek word gewoonlik nie snags wakker nie, maar ek het dié week ’n paar nagte wakker geword en my oor haar bekommer.” Sy en haar dogter is baie na aan mekaar en sy mis haar teenwoordigheid in die huis verskriklik. “Dit voel of sy enige oomblik by die deur kan instap. Ek raak hartseer as ek haar goedjies in haar kamer sien.” Hulle laaste naweek saam was baie emosioneel.

Met myself gaan dit maar soos mens van ’n ma kan verwag. Ek is gebroke en hartseer..." - Susan Lemmer, Cezanne Visser se ma
“Cezanne was by tye baie hartseer, maar eintlik was sy die dapper een. Sy het my heeltyd probeer vertel wat ek als moet doen om myself te beskerm terwyl sy weg is. Omdat ek probleme met my oë het, is sy bang ek ry snags alleen rond. Sy het ook moeite gedoen om tyd saam met haar twee oumas en haar vriend deur te bring. Dis asof sy oor almal bekommerd was en haarself op die agtergrond geskuif het. Maar ek weet sy was baie bang oor die onbekende wat op haar wag.” Susan moes skarrel om al Cezanne se goed bymekaar te kry vir die tronk. Sy kon net ‘n voorgeskrewe lysie goed saamneem. Mens moet jou hele lewe in twee sakke probeer inkry. Ek het vir haar thermal-onderklere gekoop en sy het vlootblou sweetpakke, tekkies, rubberplakkies om mee te stort en wit T-hemde nodig gehad.” (Sy het Maandagoggend met stylvolle klere by die hof aangemeld, maar het daar ‘n sweetpak aangetrek voor sy na die Pretoria Sentraal-gevangenis vertrek het.) Cezanne moes onder meer haar eie eetgerei, seeppoeier, hangers en beddegoed saamneem. “Al haar eetgerei moes plastiek wees en sy het bakkies nodig gehad om haar koffie en suiker in te hou.” Daar is ’n snoepwinkel waar gevangenes eetgoed en kruideniersware kan koop. Susan moes geld by die snoepie inbetaal vir Cezanne. Susan en Cezanne het voor sy haar by die gevangenis aangemeld het ’n voorbereidingsessie met pastoor Philip Kruger gehad. Hy doen al 35 jaar geestelike berading in die Pretoria Sentraal-gevangenis. “Hy is ’n gawe man en het Cezanne vertel wat sy te wagte kan wees. Hy het beloof hy sal sorg dat daar mense is wat na Cezanne omsien. Maar Cezanne het met my eerste besoek gesê dat niemand mens eintlik regtig kan voorberei op die werklikheid nie.” Cezanne is nie in een van die groot selle waar tot 50 mense aangehou word nie. Sy is in ’n kleiner sel waar 16 mense slaap.
“Die eerste twee weke is blykbaar die moeilikste om aan te pas, maar ek weet Cezanne sal dit regkry. Ek het destyds, toe sy in opdrag van die hof in Weskoppies opgeneem is vir waarneming, en tussen van moordenaars tot geestesversteurdes moes bly, al gesienhoe sterk Cezanne kan wees.” Susan is baie bekommerd oor die stories wat mens gewoonlik van tronke hoor, maar sê niemand het haar kind nog enige leed aangedoen nie. Almal by die tronk is tot dusver baie vriendelik en behulpsaam om haar te help aanpas. Cezanne het haar voorgeneem om haar volle samewerking in die tronk te gee. Sy wil dit so positief as moontlik aanpak en wil graag betrokke raak as onder meer ‘n opleidingsbeampte in rekenaaronderrig. Sy wil ook by ’n geloofsaksie aansluit om haar geloof uit te leef. “Sy gaan al die positiewe kanse wat sy in die tronk kry, aangryp en benut.” As alles goed gaan, kan Cezanne binne twee jaar en drie maande weer vry wees. Dit is waarop Susan hoop. Susan mag haar dogter vier keer per maand vir 30 minute sien en Cezanne mag Saterdae, Sondae en Woensdag tien minute met iemand oor die foon praat. “Met myself gaan dit maar soos mens van ’n ma kan verwag. Ek is gebroke en hartseer, maar sal alles in my vermoë doen om my kind se tronkstraf so gerieflik moontlik te maak.”