As klein dogtertjie het Marise Malherbe geweet sy wil eendag met ’n man soos haar pa, Gideon, trou.

Toe vind sy hom op Facebook. Handré Pollard. Briljante jong rugby-Bok. Op 9 Desember verlede jaar het hulle laatmiddag voor 180 gaste by die Cavalli Wine and Stud Farm buite Stellenbosch die knoop deurgehak. En SARIE het eksklusief die troufoto’s en storie bekom.

Marise en Handré verseël hul huwelik met ’n kus. FOTO'S: Coetzer Cooke

Twee weke voor die troue is Marise, met haar wilgerlatlyf en blinkswart hare en oë, aan die gesels met ons in ’n koffieplek in Kaapstad. “Handré het my in graad elf op Facebook uitgenooi,” vertel sy. “Hy het gesê hy hou van my voorkoms, vrolikheid en sportlus.”

Ná ’n maand se gesels op Facebook het hy by hul dorpshuis kom kuier. Hulle het ook ’n plaas, Bloemendal Simondium buite die Paarl, waar haar ouers boer met suurlemoene en ’n rehabilitasiesentrum vir alkohol- en dwelmafhanklikes, Spoor Ses, vir ’n Nederlandse maatskappy bestuur.

Haar ma, Tanya Peckham-Malherbe, op haar dag ’n Springbok-langafstandatleet, rig ook atletiek af.

Sy glimlag skalks. “Toe hy my die eerste keer sien en ’n #drukkie gee, het ek geweet hier kom ’n ding. Sy selfvertroue, goeie maniere en nederigheid het ons almal beïndruk.” Hy het haar daar en dan na sy matriekafskeid gevra.

FOTO: Coetzer Cooke
Marise blaas 'n soentjie in die lug vir geluk. FOTO'S: Coetzer Cooke
Die Cavalli-perdeplaas buite Stellenbosch was die perfekte trouplek vir dié twee wat dol is op die natuur en diere. FOTO'S: Coetzer Cooke

Handré het in 2012 in matriek aan Paarl Gimnasium vir die Junior Springbokke gespeel en is in 2014 as die IRB se Junior Speler van die Jaar aangewys. Marise was destyds ’n SA 800 m-atleet en het in die eerste netbalspan van die Hoër Meisieskool Paarl gespeel.

Vier maande later is hy gekontrakteer om vir die Blou Bulle en Tukkies se rugbyspan in die Noorde te speel. “Gelukkig was ek toe [2013] in matriek en baie besig met my sport, vriende en skoolwerk. Maar hy het darem een keer per maand kom kuier.”

In 2014 het sy met ’n sportbeurs grondslagfase-onderwys aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. “Hul atletiek was die beste in die land en ek wou naby Handré wees.” Aanvanklik het sy niemand daar geken nie en Handré het baie gereis.

“In 2015, met die Wêreldbeker, was hy vyf maande weg van die huis. Hoewel ek onafhanklik grootgemaak is, moes ek leer om kompromieë aan te gaan. Ek was baie lief vir atletiek, maar my ma het my afgerig en dit was moeilik om met ’n nuwe afrigter te oefen. Ná my tweede jaar wou ek ’n blaaskans neem en op my eie geluk en studies fokus.

As ek honderd persent gefokus het op my atletiek, sou dit baie toewyding en reis vereis het, en ek was nie reg daarvoor nie, maar die droom is steeds daar . . .”

FOTO'S: Coetzer Cooke

’n Verhouding gaan oor gee en neem, glo sy. “My ouers is reeds 24 jaar getroud en steeds verlief. Handré se ouers [Karen en André] is ook dolgelukkig. Ons kom albei uit goeie ouerhuise. Hy het ook ongelooflike waardering vir sy ouers en sy suster, Inneke, wat hom altyd ondersteun het.”

Sy ma het baie opofferings vir sy rugbyloopbaan gemaak, en sy pa het vele ure op die oefenveld saam met hom deurgebring. Hy het ook op sy dag vir die WP rugby gespeel en is nou hoof van kurrikulum-ontwikkeling by Curro.

Marise meen die liefde is ’n fyn spel. “Ná ’n lang reis bederf ek hom met ’n bord tuisgekookte kos (hy is baie lief vir beesstert en lamskenkels), ons kyk fliek en drink rooiwyn.

“My ma het my geleer die man moet altyd ’n bietjie wonder. Behou jou misterie . . . Verhoudings is harde werk. Jy moet nooit te gemaklik raak nie. Ek versorg my net so goed as toe ons begin uitgaan het. Ek hou van die mode, maar Handré verkies my in ’n T-hemp en jeans,” lag sy.

Die bruid se trourok van wit satynrekstof is by Bridal Wardrobe in Lynnwood Bridge, Pretoria, gekoop. Die uitsonderlike rug is versier met fyn kraletjies op maasstof vir ’n sensuele voorkoms. ’n Grys netsluier, wat in haar lae bolla gedruk is, het sag gesleep toe sy geloop het . . . Presies soos sy dit haar voorgestel het. Die bruidegom was stylvol geklee in ’n wit hemp met sy voorletters op die mouboordjies geborduur. Dit is spesiaal vir die troue gemaak en was perfek by sy vlootblou pak en sjokoladebruin das. Sy skouerruiker was van onder meer Japannese bamboes, trosrosies en angelierknoppe. FOTO'S: Coetzer Cooke

Handré laat weet per WhatsApp hy wil saam met haar oud word, want: “Elke dag as ek haar sien, laat sy my hart vinniger klop omdat dit opwindend aan haar sy is, én stadiger, want ek voel veilig saam met my beste vriendin.”

Marise sê sy het hom nog nooit kwaad gesien nie. “Ek raak soms so ontsteld as die Bokke gekritiseer word soos ná hul nederlaag teen Ierland einde 2017. Handré lees nooit ’n koerantberig oor homself nie. As ek hóm bel en vra wat moet ek sê as mense bel, sê hy rustig: ‘Sê ons werk aan ons spel, hulle moet fokus op die toekoms.’ Toe hy vir sy swak skopwerk teen die Franse gekritiseer is, het hy gesê hy oefen en dit was lekker om te wen.

“Handré bons gou terug. Hy kwel hom nie oor dinge wat verby is nie en probeer oplossings vind. Dit is hoe ons alles in ons verhouding hanteer. Wanneer mense sê ons offer baie op deur te trou, lag ons. Ons lewe begin nou eers.”

FOTO'S: Coetzer Cooke

Hulle het op 21 Desember 2016 op ’n afgeleë strand op Hermanus verloof geraak. Teen skemeraand het Handré haar met ’n piekniekmandjie op die strand ingewag met ’n klassieke diamantring.“Agterna het ons by my ouers se strandhuis met familie en vriende soos [die Springbokke] Jesse Kriel en Damian de Allende partytjie gehou.”

Natuurlik stel dit eise om ’n Bok as geliefde te hê. “Ek is dikwels alleen. Toe ek Pretoria toe getrek het, het Handré vir my ’n grys kat, Skye, met die mooiste groen oë gekoop. Ek het my byna doodgehuil toe sy dood is.” Maar sy twyfel nooit aan hom nie. “Handré val nie vir die versoekings daarbuite nie en meen hy kan sy tyd beter benut deur koffie met mentors te drink of gholf te speel met goeie vriende.”

So twee jaar gelede is die twee deur ’n moeilike tyd nadat Handré beseer is en ’n maand in die hospitaal was. “Dit het ons verhouding beslis versterk,” sê sy.

“Eers het hy tydens die Wêreldbeker in 2015 sy regterskouer beseer. Die jaar daarna het hy die kruisligamente in sy regterknie geskeur en ná ’n knie-operasie kon hy agt maande nie rugby speel nie. Hy het toe ook sy skouer laat opereer. Sy rehabilitasie het nie volgens plan verloop nie.

Hy het septisemie [bloedvergiftiging as gevolg van ’n kiem in die hospitaal] opgedoen en die wond moes twee keer oopgemaak word weens infeksie. Hy was ’n maand in isolasie. Deur alles het hy net positief gebly en elke dag op sy eie benader. Party dae het hy mý moed ingepraat.”

Vir ewig en altyd. FOTO'S: Coetzer Cooke

Marise sê sy leer baie by hom. “Ek was altyd angstig, veral voor atletiekbyeenkomste. Handré draf met die grootste gemak voor ’n skare van 50 000 uit. Hy het my geleer om my drome na te jaag, te fokus op my geluk.” Volgens haar is hy nog dieselfde mens as toe sy hom leer ken het, glad nie aanstellerig nie en ’n introvert.

Sy vertel: “In Pretoria is ons blootgestel aan goeie Afrikaanse musiek. Ons het Twee sien optree by Die Blou Hond-teater en Handré wou ’n foto saam met hulle laat neem. Die sangeres, wat eers ’n onderwyseres by sy skool was, teken toe: ‘Juffrou Rademeyer’. Hy was baie ingenome!”

Heelparty rugby-celebs is na hul troue genooi. Onder andere Springbok-spanmaats Lood de Jager, Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Trevor Nyakane, Jesse en sy broer, Stormers-senter Dan Kriel.

FOTO'S: Coetzer Cooke

Vir hul wittebrood van twee en ’n half weke is hulle na New York, Fort Lauderdale, Miami, en op ’n skeepsreis na Jamaika, Mexiko en Haïti. Marise wou ook die Serengeti in Tanzanië en Zanzibar beleef, maar “jy weet nooit wanneer die diere gaan migreer nie. Ons sal dit later doen.”

Sy het Handré meer van Afrika geleer. “Ons jag gereeld bokke saam met my pa en besoek wildsparke.” Toe hulle begin uitgaan het, het sy al in Zimbabwe, Botswana en Namibië getoer. Hul gesin het ook gereeld op plesierskepe op die Middellandse See na plekke soos Monaco, Istanboel, Capri en Barcelona gereis.

“Ons wil leer van mekaar se wêrelde. Ek wil Engelsklasse gee in ’n vlugtelingekamp in Kenia en by olifantbewaring betrokke raak. Hy is opgewonde daaroor.” Albei is lief vir Suid-Afrika, braaivleis en Afrikaans.

“Handré het as tjokkertjie al besluit hy wil honderd Boktoetse agter sy naam skryf. Rugby gaan vir hom oor veel meer as geld. Sy pa het al kleintyd ’n liefde vir die spel in hom wakker gemaak. Hy is tot 2019 se Wêreldbeker by die Bokke gekontrakteer, maar hoop om ’n geleentheid te kry om oorsee te speel. En ek is oop vir avontuur.”

Die lang, vroulike sleep, die rugdetail, die lae bolla – Marise is die toonbeeld van elegansie. FOTO: Coetzer Cooke

Kinders is beslis op die kaarte, maar eers oor vyf jaar. En as dit beteken hul kinders moet ’n ruk lank oorsee woon, beskou hulle dit as ’n voorreg en lewenservaring.

Marise en haar broer Fanie (20) is “infertiliteitsbabas” en haar laatlam-broer, Richard (6), voel byna soos haar eie kind, vertel sy. “Hy is gebore toe my ma 45 was, nadat sy gedink het sy sal nooit self swanger raak nie, en is ’n groot seëning.” Toe hy op drie maande ’n ingrypende hartoperasie moes kry, het sy haar ma baie bygestaan. “Dikwels, as my ouers oorsee gaan, pas ons hom op. Ek het opnuut besef kinders is my passie.”

Die paartjie doen graag saam Bybelstudie en glo hul huwelik gaan werk omdat God hul anker is. Ds. Bekker Nieuwoudt van die Paarl wat die huweliksbevestiging gedoen het, het ook goeie raad gegee: “Hy het vooraf vir ons gesê om jaarliks oor ’n lekker bottel wyn mekaar se goeie en slegte punte te lys. Aanvanklik sal die slegtes min wees. Terwyl een praat, moet die ander luister. Jy moet nooit dinge opkrop sodat jy op ’n dag ontplof nie.”

Tydens die wittebrood het die paartjie presies dit in SoHo, New York, gedoen. Hulle het besef hoe belangrik die groot JA was toe sy op Matthew West se liedjie “When I Say I Do” voor gaste en die predikant ingestap het.

Maar vir hulle is die opoffering nie groot nie. Soos hulle sê: “Ons lewe begin nou.”

Marise wou gemaklike skoene dra en het wit leerplatforms gekies. “Nee wat, meisies wat hul skoene deur die aand uittrek omdat hoë hakke hulle seermaak – dit is nie vir my nie.’’ Sy sê Handré bring gereeld vir haar ’n bottel parfuum van oorsee terug, maar vir die troue wou sy graag die vars geur van Issey Miyake aantik. Die fyn oorbelle het sy by dieselfde plek as haar rok gekoop. Pêrels, glo sy, pas by ’n bruid, want dit is sag en vroulik. FOTO'S: Coetzer Cooke
Ds. Bekker Nieuwoudt deel ’n grappie met Handré. FOTO'S: Coetzer Cooke
Die bruidspaar luister na die huweliksformulier soos voorgelees deur ds. Bekker Nieuwoudt van die Paarl. FOTO'S: Coetzer Cooke
Klein Richard kan nie wag om die trouring vir Handré te gee om aan sy lieflingsuster se vinger te steek nie. FOTO'S: Coetzer Cooke
Handré se ma neem ’n foto van die bruidspaar. Links is sy pa, André. Regs is Kayla Smal, Marise se broer Fanie se meisie. FOTO'S: Coetzer Cooke
Veertjies, pleks van konfetti, daal sag op Handré en Marise neer. Hulle het die vere by Wedding Warehouse in Pretoria en Duvet Warehouse in die Kaap gekoop. FOTO: Coetzer Cooke
Marise het ’n mooi foto van ’n soortgelyke bruidsruiker op Pinterest gesien en besluit hare moet so lyk. Dit was ’n keur van onder meer rose, leeubekkies, dusty miller-blare, ridderspore en orgideë, saam met roomkleurige satynlint en kristalspelde. FOTO'S: Coetzer Cooke
Marise is dol op mooi prentjies en wou hê haar strooimeisies moes net so lieflik soos sy lyk. “Hulle is almal pragtig.” Griet de Villiers van die Paarl, wat al haar matriekafskeidrokke gemaak het, het hul rokke, met ’n vloeiende salmkleurige romp en stywe satynwit bostuk, gemaak. Die strooijonkers was in pakke van Berkshire & Black uitgevat. Van links is Liza-Marie Fourie, Lood de Jager, Girda du Toit, die bruidspaar, Lian Schwartz, Louise Louw, Dan Kriel en Janine Faulha. FOTO'S: Coetzer Cooke
’n Familiefoto: van links is Fanie Malherbe, Marise se broer, haar ouers, Gideon en Tanya Malherbe, haar geliefde kleinboet, Richard, die bruidspaar, Handré se ouers, André en Karen Pollard, en sy swaer en suster, Anton en Inneke van Niekerk. FOTO'S: Coetzer Cooke
Marise se ouma aan moederskant, Maria Peckham, gesels met die Springbok-slot en -kaptein Eben Etzebeth. FOTO'S: Coetzer Cooke
Marise se vriendinne, wat drie kombuistees vir haar gereël het, is van links, agter: Christina Coetser, Marsunet Breytenbach, Lisa Kirsten, Dezi Groenewaldt, Michelle du Plessis, Bridget Uys, Nikita du Toit, Trisha van der Merwe en Megan Gossman. Voor is Mandie Dannhauser. FOTO'S: Coetzer Cooke
Megan Gossman, Suné du Toit en Rochelle Rossouw. FOTO'S: Coetzer Cooke
Springbok-slot Lood de Jager, een van sy beste vriende, stel die heildronk op Handré in. Die strooijonkers se pakke is afsonderlik vir hulle gemaak sodat hulle eksieperfeksie op hul vriend se groot dag kon lyk. FOTO: Coetzer Cooke
Is daar iets lekkerders as om met jou nuwe bruid te dans? FOTO: Coetzer Cooke
Die bruid se ouers drink ’n heildronk op die nuutgetroudes. FOTO'S: Coetzer Cooke
In die rangskikkings vir die hooftafel was wit rose, waaroor Marise as dogtertjie gedroom het vir eendag as sy ’n bruid is, zinnias, tulpe, orgideë, varing en bloekomtakke. FOTO'S: Coetzer Cooke
Marise was mal oor die sirkel-monogram van groen blaartjies omdat dit ’n eenheid vorm – soos ’n sirkel van die lewe, ’n eenheid van liefde. Die troue se kleurskema was boonop groen, goud en wit. FOTO'S: Coetzer Cooke
Die bruidspaar lig dankbaar ’n glasie op hul ouers. FOTO'S: Coetzer Cooke
Marise se broer Fanie stel ’n heildronk in op hul ouers. FOTO'S: Coetzer Cooke
Handré se rugbyvriende en hul gades. Van links is Candice en Dan Kriel, die bruidspaar en Siya en Rachel Kolisi. FOTO'S: Coetzer Cooke
Ou skoolvriende, Trisha van der Merwe en Niël de Bod. FOTO'S: Coetzer Cooke
Gesondheid op die bruidegom, sê Paul Joffre. Langs hom is Tammy Cupido. FOTO'S: Coetzer Cooke
Marise en haar pa, Gideon, open die dansvloer op een van haar gunstelingliedjies, “Namibsroos”, van Theuns Jordaan. FOTO'S: Coetzer Cooke
’n Ongewone troukoek, bestaande uit nege lae met vye en kase omdat hulle glo ’n tradisionele troukoek word dikwels vermors. “Ons wou ook sorg dat die gaste iets substansieels in die maag het as hulle tot baie laat in die nag kuier,” sê Marise se ma, Tanya. FOTO'S: Coetzer Cooke

Verskaffers

Trouplek: Cavalli Wine and Stud Farm, 021 855 3218, www.cavallistud.com

Bruid se grimering: Saskia Buxton, 060 818 9328

Bruid en strooimeisies se hare: GHD South Africa, e.grey@ghdhair.co.za, www.ghdhair.com/za

Strooimeisies se grimering: Made You Pretty, 073 608 1922, madeyouprettyx@gmail.com, Made you pretty op Facebook

Fotograaf: Coetzer Cooke Photography, info@coetzerphoto.com, www.coetzerphoto.com, 072 706 7285

Tweede fotograaf: Danelle Stofberg, 082 758 3237

Bruidegom en strooijonkers se pakke: Berkshire & Black, info@berkshire.co.za, www.berkshire.co.za

Matjiesfontein-water: 082 905 8947

Niel Joubert-wyn: 021 875 5936, www.nieljoubert.co.za

Kasselshoop Kaas: 074 819 4659 info@kasselshoop.co.za

Blomme: Blomlief, 084 454 4506, www.blomlief.co.za

Verblyf: Paddabult, 021 863 2509, www.paddabult.com

Ring: Louie Daniele Diamond Co, 0861 333 347, flagship@louiedaniele.com, www.retail.louiedaniele.com

Lingerie: Luna Intimates, luna.intimates@gmail.com, www.lunaintimates.com