Verbeel jou ... Nataniël en ’n handvol guitige kunstenaars in ’n retro-Kombi vaar ’n plattelandse dorpie klingelend binne.

Almal hou asem op en kyk. Dis ’n hele Optog – hulle kom konsert hou op jou dorp. Hier kom vir jou ’n ding, want Optog, die naam vir hierdie uit-die-boks-uit-konsep in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld, gaan kuns na die mense toe bring.

Loer hier na die video ... want ’n gatskop mechanic kom ook saam! Wie kan dit wees?

Optog is bedink deur die musiekregisseur Matthys Maree, bekend vir innoverende suksesse soos die musiekproduksies Afri-Frans en Afri-Spaans. Nataniël het die naam “Optog” uitgedink en is die “gesig” van die veldtog. En SARIE marsjeer trots saam, as een van die mediavennote! Ons word immers volgende jaar 70, ’n perfekte viering van ’n groot mylpaal.

Optog is byna soos die sirkus en troebadoers en rondgaande teater van toe. “Ons herontwerp nie die wiel nie, ons keer bloot terug na die vroegste formaat deur kleiner vertonings na die mense te neem. Regeringshulp aan die kunste het oor die jare drasties gekrimp, maar in die wêreld is dinge dikwels siklies. Soos ’n konsertina wat in- en uitasem, wil Optog nuwe lewe inblaas.” En dit sal meer as net produksies wees. “Ons kan hier en daar ’n laag verf aanbring, ’n mikrofoon of ’n nuwe kleedkamer. Klein dingetjies, wat die boodskap dra dat iets weer aan die gebeur is.”

Volgens Nataniël sê Optog presies wat hulle gaan doen: “Ons marsjeer jou plek binne, bring vermaak, hoop en herstel, en marsjeer dan na die volgende plek.” En wie sal beter weet wat kan werk? Nataniël tree immers al 30 jaar lank oral op – van Covent Garden in Londen tot op die kleinste plattelandse gehuggies. Johan Hendriksz, Optog se “Padbouer” (nasionale logistieke koördineerder), sê trouens: “Nataniël ken elke plattelandse ‘tannie’ op die naam.”

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Nataniël se sentimente oor die platteland loop wyd. “As ek aan die platteland dink, onthou ek my ouma, tuisgemaakte jogurt, stilte, bome, vrees, eensaamheid, kleintyd, konserte in die kerksaal, tantes met opwindende donker huise, orrel oefen in ’n groot kerk, fietsry op ’n warm pad, verlange en plaasbrood.”

Maar hy voeg vinnig by Optog is nie eksklusief op die platteland gemik nie. “Dis vir almal, ons gaan na stede en groot teaters ook. Ek het betrokke geraak omdat ek nie van die feeskultuur hou nie en die eertydse glorie van goeie teater en werkende teaters wil help herstel. Ek het grootgeword op klein dorpies, in ’n tyd toe toneelstukke en musiekkonserte deur rondreisende geselskappe aangebied is. Dit het my lewe verander, my aan die gang gehou met die belofte van magic. Almal moet dit beleef.”

Hou SARIE.com dop vir meer inligting (en bekende gesigte)!

Gaan jy saam kom OPTOG!?