Aktrise en TV-aanbieder Crystal-Donna Roberts het onlangs verloof geraak en sy vertel eksklusief aan SARIE.com al die besonderhede ...

Crystal-Donna en haar Schalk Cornelessen is al byna ’n jaar en ’n half ’n paartjie en steeds kon hy dit regkry om haar te verras met dié groot vraag. Ná ’n aand uit en terug by hul huis, het Crystal-Donna haar hakke gaan uitskop en gemaklike klere aangetrek. Maar toe sy in die sitkamer kom, het Schalk, wat twee jaar jonger is as sy, ander planne gehad. "Die hele sitkamer was vol kerse," vertel sy opgewonde aan SARIE.com. "Hy het op sy een knie afgegaan ... die hele old school romantic-ding!"

Dit was ’n baie spesiale oomblik.

-Crystal-Donna oor die oomblik toe Schalk haar vra om te trou

FOTO: Verskaf aan SARIE.com FOTO: Verskaf aan SARIE.com

"Hy het gepraat oor hoe gelukkig ons saam is. Ek het snot en trane gehuil! En ek dink hy ook."

Noudat sy terugkyk kan sy nie glo dat sy nie die tekens gesien het nie. "Ek het gewonder waarom daar sjampanje in die huis is ... en hy het bewerig geword toe ons by die huis kom."

Die ring

Crystal-Donna is nie mal oor fyn ringe met diamante nie, daarom het Schalk vir haar spesiaal ’n ring laat ontwerp. "Dis tomboy-ish, maar ek hou baie daarvan!"

Schalk het haar verloofring spesiaal vir haar laat ontwerp FOTO: Verskaf aan SARIE.com Schalk het haar verloofring spesiaal laat ontwerp
FOTO: Verskaf aan SARIE.com

"So twee weke voor hy my gevra het, het hy glo terwyl ek geslaap het die ring aan my vinger gesit om te kyk of dit pas. Hoewel ek lig slaap, was ek baie moeg daardie aand, so ek het deur alles geslaap."

... en die troudatum

"Ons het nog baie om te reël, maar wil graag volgende jaar in Mei trou. Ons is mal oor daai tyd van die jaar. Ek het baie familie, en Schalk het baie familie, en ons wil almal daar hê. Dit kan nie ’n klein troue wees nie, maar ons wil dit eenvoudig hou."

Besige Crystal-Donna

Buiten dat Crystal-Donna ’n Pasella-aanbieder is, is sy nog heeltyd besig met die toneelstuk Rondomskrik – die toneelstuk geïnspireer deur die storie van Anene Booysen wat in 2013 verkrag en vermoor is op Bredasdorp. Kyk HIER wat sê sy oor dié toneelstuk. Verder gaan sy weer in Bidsprinkaan speel wat gebaseer op die gelyknamige roman van André P. Brink en verwerk is deur Saartjie Botha.

Geluk Crystal-Donna en Schalk! 

Lees ook