Die Afrikaanse aktrise, TV-aanbieder en bekroonde skrywer Vicky Davis en die musikant Schalk Joubert is verlede week op 11 September in ’n private seremonie getroud. Vicky vertel eksklusief aan SARIE.com van dié spesiale dag. Vicky en Schalk is al 13 jaar vriende, maar het eers aan die begin van vanjaar besef hulle is reg vir mekaar. "Behalwe dat hy slim en aantreklik is, is hy my beste vriend."

Ek kan my nie ’n lewe sonder hom daarin eers verbeel nie.

- Vicky oor Schalk

Dié paartjie, wat in Januarie 2015 hul eersteling verwag, het verlede Donderdag in die hof in die Paarl getrou. "Ons wou graag nog hierdie jaar trou, maar dinge gaan op die oomblik net te dol met werk om ’n volskaalse troue te beplan en weg te kan gaan vir ’n wittebrood." Hulle wil ook hul ver en oorsese familie en vriende genoeg tyd gee om hul bruilof by te woon - wat waarskynlik einde volgende jaar of begin 2016 in die Kaap/Boland-area sal plaasvind.

Elkeen het twee goeie vriende saam met hul metgeselle genooi om hul troudag saam met hul te vier en getuies te wees.

Vicky het soos gewoonlik pragtig gelyk! Sy het besluit op ’n wit minirok met bypassende baadjie, en Schalk het ’n stylvolle donker pak aangehad.

FOTO: Verskaf aan SARIE.com FOTO: Verskaf aan SARIE.com

Waarna sien jy die meeste uit van die bruilof wat later gaan plaasvind?

Om die dag met familie en vriende te kan deel en ons samesyn te kan vier. En gelukkig is ons dan al amptelik getroud, so daar is geen admin-stres betrokke nie!

Watter eienskap van Schalk gaan hom ’n goeie pa maak?

Schalk is lief vir mense en is mal oor kinders. Hy het baie liefde, wysheid en ervaring om te deel en is ’n natuurlike mentor vir jonger mense. Hy sal beslis ’n baie fun pa wees.

Watter eienskap van jouself gaan van jou ’n goeie ma maak?

Ek hoop ek sal my altyd in haar skoene kan indink en goeie begrip kan hê vir my kind.

Het julle al op ’n naam besluit besluit?

Daar's ’n paar opsies waarmee ons speel, maar ons is nog nie doodseker nie.

Jy en Schalk het albei beroepe wat baie uitdagend is. Hy is byvoorbeeld binnekort op pad New York toe. Hoe hanteer julle dit?

Die aard van ons albei se werk en ure is uitdagend, maar ons ondersteun mekaar maar soos dit nodig is - gelukkig het beide van ons baie goeie begrip (en simpatie!) vir die uitdagings van ons bedrywe.

Lees ook