As Mej. SA het Rolene Strauss ’n vol skedule, maar sy geniet elke oomblik. Sy hou eksklusief vir SARIE.com dagboek oor haar naweek by een van SA se gewildste glansgeleenthede, die Durban July.

Vrydag, 4 Julie

Vandag is ’n propvol dag, soos wat die gewone dag maar in die lewe van ’n Mej Suid- Afrika is!

My wekker lui 5:30 om te sorg dat ek 6:00 by die Planet Fitness in Sandton kan wees. Soos ek deur die been-en-boud-brandsessie druk, wonder ek hoe op aarde ek môre die hele dag met hoëhakskoene op gras gaan loop. Dié ervaring gaan darem goeie voorbereiding wees vir die internasionale kompetisies aan die einde van die jaar!

FOTO: vergunning van Rolene Strauss FOTO: Rolene Strauss

Die laaste paar goedjies is inderhaas in my tas gepak en ek is op pad na my eerste Durban July. Ek kan die atmosfeer in die vliegtuig aanvoel - die meeste van die passassiers vlieg juis af vir dié opwindende dag. Ek voel jammer vir die vrou wat langs my sit, want haar spesiale uitrusting het op OR Tambo International agtergebly met al die haas om die vliegtuig betyds te haal.

Ek kan nie wag om by die Sibaya Hotel te kom om seker te maak dat ek wel my pragtige Old Hollywood en Gatsy-geïnspireerde rok deur Anél Botha ingepak het nie.

FOTO: vergunning van Rolene Strauss FOTO: Rolene Strauss

Ek is veilig by die hotel, my uitrusting is ingepak en ’n kopie van Sun International se tydskrif Privé, met my op die voorblad, lê vir my en staar. Soms voel my lewe steeds te goed om waar te wees. Dit herinner my, ek moet 'n sneak peek van my uitrusting neem vir my sosiale media.

Ek sien uit na die naweek se sports met my boetie, Johann, as my metgesel en my ma, Theresa, wat ons kamer in die Sibaya Hotel met ons deel. Met hul gasvryheid en my gesin by my kan dit net lekker wees.

Rolene en haar broer Johann by die Sibaya Hotel FOTO: Rolene Strauss Rolene en haar broer Johann by die Sibaya Hotel
FOTO: Rolene Strauss

Saterdag, 5 Julie

Nadat ek my ma en boetie letterlik wakker ge-jump-and-jacks het, begin die titteweit. Vandag gaan ek terug na die 1920's ... Old Hollywood, hier kom ek!

Eerste moet ek gou in die bad spring en dan begin die losmaak van die krulle wat ek gisteraand tot wie weet watter tyd versigtig gekrul en vasgeknip het.

FOTO: Rolene Strauss FOTO: Rolene Strauss

Nadat ek (met die hulp van my ma) my hare stewig opgesteek het, kom kleur Sindy, die grimeerkunstenaar van Smashbox, my in. Weer eens besef ek hoe gelukkig ek is om vandag met my gesin te deel. Dit is net my pa, Hennie, wat kort.

Rolene, haar broer Johann en ma, Theresa FOTO: Rolene Strauss Rolene, haar broer Johann en ma, Theresa
FOTO: Rolene Strauss

Voor ons ons oë kon uitvee, omring ’n see van mense ons by die Durban July en skop ek af met ’n fotosessie vir die Sunday Times. Hoewel ons meestal deur twee MIB's (Men in Black) omring was, was Johann definitief ’n wonderlike metgesel-en-lyfwag in een.

Dit is wonderlik om al die mense te ontmoet, en ’n minuut of twee saam met Elana Afrika-Bredenkamp bring soveel herinneringe terug. Dit was sý wat my naam gelees het toe sy op 30 Maart in die Sun City Superbowl Mej. SA 2014 aangekondig het. Dit is tóé dat ek genader word vir ’n vlugtige onderhoud met Jeannie-D vir SABC 3 se Top Billing.

FOTO: Rolene Strauss FOTO: Rolene Strauss

Ná ’n lang dag op hoë skoene is dit ’n verligting om weer by die hotelkamer in te loop, gemaklike klere aan te trek en ’n wonderlike ete saam my geliefdes te geniet. Die pyn in my voete is gou vergete toe ek ’n dierbare briefie by die restaurant ontvang.

FOTO: Rolene Strauss FOTO: Rolene Strauss

Vanaand slaap ek letterlik soos ’n baba ...

Sondag, 6 Julie

My oë gaan sukkel-sukkel oop, maar ek maak vinnig reg en groet my slapende boetie en bedrywige ma voor my vlug terug Johannesburg toe. Die weer getuig dat dit vandag winter is ná gister se sonnige somersdag.

Terwyl ek ’n warm teetjie op die lughawe geniet, vra iemand my of dit ek op die voorblad van die Sunday Times is. Ek het al skoon vergeet van die foto's wat gister geneem is en stuur dadelik vir my familie se WhatsApp-groep ’n boodskap om die koerant te koop aangesien almal plakboeke van my jaar maak. Ek is regtig geseënd met die lieflikste familie en vriende wat my elke treetjie ondersteun.

Op die voorblad van gister se Sunday Times FOTO: Rolene Strauss Op die voorblad van gister se Sunday Times
FOTO: Rolene Strauss

Ek sit tans op die vliegtuig terug Johannesburg toe en tik die laaste stukkie dagboek vir julle, want sodra ek land, is dit operasie uitpak en wéér inpak vir my Switserse besoek van ses dae wat môre afskop.

Die geleenthede, ondersteuning en herinneringe wat ek sover as Mej. SA ontvang en gemaak het, oortref my verwagtinge. Met ’n dankbare hart en opwinding vir dit wat voorlê, maak ek my oë toe vir ’n vinnige slapie voordat ’n nuwe avontuur in die lewe van ’n Mej. SA begin ...

Nóg nuus oor Mej. SA's op SARIE.com