Tickey van Wyk, die skaapboer van Loxton in die Noord-Kaap, het selfs sy "Selmatjie" (Selme-Louise du Plessis) gevra om te trou. En een van die dae hou hulle 'n groot makietie buite Nelspruit.

Intussen is aanbieder Elma Postma al weer besig om SA se paaie plat te ry vir die tweede reeks van dié gewilde program. Gerugte loop dik dat van die boere nie belangstel in liefdesbriewe van vreemde vroue nie. Hulle wil eintlik net vir Elma hê!

'n Joernalis-vriendin vertel 'n vriend van 'n vriend het haar gesmeek vir Elma se telefoonnommer, want hy wil haar graag op 'n date vat.

"Ja," spot Elma (30), "jy sal nie glo hoe soek hierdie land vir my man nie! Tannies het al gevra of ek hul seuns wil ontmoet."

Sy wonder soms of sy nie té onafhanklik is vir 'n verhouding nie.

"Ek neem groot besluite oor finansies en eiendom op my eie. Ek doen alles self. Ek hoef niemand se toestemming vir enigiets te vra nie. Maar ek wil weer sag word en ek wil weer oorgee. Soms voel ek as daar 'n man in my kombuis staan as ek sulke moeilike besluite moet neem, sal ek kan sê, 'Dankie tog, jy's hier'. Dit sal lekker wees as hy 'n bietjie vir my kan sorg."

SARIE het besluit om te help - sommer net vir die pret!

Ons het Marilyn Welch, 'n matchmaker van Pretoria, gevra om te vertel wat sy in ag neem as sy mense by mekaar probeer pas. Toe het Elma 'n vraelys opgestel en ons het drie uiteenlopende mans gevra om dit in te vul om te kyk wie die beste by haar gaan pas: 'n wynboer,'n amper-prokureur en 'n sanger. Nie een van hulle het geweet wie die misterieuse vrou is wie se vrae hulle beantwoord nie.

Dít soek Elma

Elma het 'n paar eienskappe van haar ideale man verklap: Hy moet haar reguit in die oë kan kyk, stylvol maar gemaklik aantrek en 'n pak kan dra as die geleentheid dit vereis. Hy moet ferm gebou wees, maar sy soek nie 'n spierpaleis nie.

Hy moenie onnodig jaloers wees nie en hy moet verstaan dat sy soms aandag aan aanhangers moet gee. Iemand wat haar vryheid gee om haar eie ding te doen. Met 'n sin vir humor.

Wat haar ambisie verstaan ... Hy kan selfs jonger as sy wees, solank hy volwasse genoeg is.

"Hy moet ook nie bang wees om sy emosies te wys nie, want dit beteken hy sal my emosioneel kan ondersteun. 'n Man wat nie kan huil nie, sal my nie verstaan nie."

Die 3 manne 

Dit was nie maklik om die kandidate te kry nie. Jy kan verstaan hoekom soveel vroue sukkel - troumateriaal is yl gesaai! Bok van Blerk (31) sanger, lees graag oor die buitelewe en musiek. Hy's mal oor water- en sneeuski, jag en om met sy motorfiets Dullstroom toe te ry om te gaan forel vang. Hy hou verkieslik vakansie in Mosambiek. Hy is 'n sucker vir 'n vrou met mooi bene, maar mooi oë en lippe maak sy knieë lam. Hy hou nie daarvan as 'n vrou vals naels het of te veel grimering dra nie. Hy haat dit om te baklei. Dis soms vir hommoeilik om sy emosies te deel, maar as hy veilig by iemand voel, is dit makliker. Hy hou van kinders en wil soms sy suster se seun steel. Hy dink 'n verhouding waar julle mekaar vertrou, met 'n bietjie jaloesie, is gesond.

 

Jan Eksteen (31) is 'n wynboer buite Wellington. Hy is veral lief vir Simply Red en Sting se musiek. Hy is familievas en lief vir teater, oefen (fietsry) en hou daarvan om langs die Kaapse kus vakansie te hou. Hy vind 'n vrou met mooi oë en 'n mooi glimlag wat goed na haarself kyk onweerstaanbaar en dink dis wonderlik as sy ambisieus is, solank sy nie obsessief daaroor is nie. Hy glo jy moet niks as vanselfsprekend in 'n verhouding aanvaar nie en jy moenie kwaad vir mekaar gaan slaap nie.


 

Bernard Wessels (26) is besig met sy klerkskap in Kaapstad en sal teen 2011 'n gekwalifiseerde prokureur wees. Hy hou daarvan om na musiekoptredes te kyk en die beste een wat hy al gesien het, is David Kramer se Karoo Kitaar Blues. Hy draf gereeld en stap soms Tafelberg uit. Hy het al gewens hy kon 'n internasionale krieketspeler wees. Hy wil eendag sy eie stukkie grond op Rhodes in die Oos-Kaap hê, met 'n perd of twee. Hy glo kommunikasie en eerlikheid is belangrik in 'n verhouding. Julle moet saam kan lag en daar moet ook iets volkome onverklaarbaars tussen julle wees.


 


En die wenner is ...

Bernard! Maar dit was moeilik om te kies, sê Elma later in ons onderhoud.

"Die 'volkome onverklaarbare iets' tussen mense waarvan hy praat, is mooi. Magic tussen julle is 'n móét. Hy verklap nie te veel in sy antwoorde nie. Hy is iemand van wie ek meer wil weet. Hy is misterieus."

Jan voel presies dieselfde as sy oor humor: Jy moet vir jouself kan lag. Hy sê, nes sy, dat ambisie goed is, maar dit moenie jou lewe oorneem nie. Sy stem saam met Bok dat 'n bietjie jaloesie in 'n verhouding gesond kan wees, maar sy liefde vir die buitelewe maak haar op haar senuwees.

"Ek sal op 'n motorfiets moet ry! Ek dink hy's te aktief vir my. En hy's 'n sucker vir mooi bene en ek het nie mooi bene nie!"

Elma sal eerder Bernard se oefening doen, soos om Tafelberg uit te klim. "Dis pret en jy kom nie agter jy oefen nie."

Die manne se reaksie

Bernard: "Ek was aangenaam verras toe ek hoor dis Elma. Ek ken haar nie, so ek kan nie met sekerheid sê of ek haar sal kan date nie. In teorie kan ek. Sy lyk asof sy baie soos haar karakter Dezi in 7de Laan is: oulik, entoesiasties, vrolik, vol lewe, passievol, dinamies en, soos almal in die Laan, kleurryk en opgeruimd. Dis bewonderenswaardige eienskappe en ek dink dit sal lekker wees om haar te ontmoet."
Bok: "Ek ken Elma nie so goed nie, maar die bietjie wat ek van haar weet, is baie positief. Sy lyk soos 'n aangename en vriendelike mens. Dit sou fantasties gewees het indien sy my gekies het."
Jan: "Ek het 'n voorgevoel gehad dit kan Elma wees. Sy lyk na 'n oulike meisie en ek hou van wat sy uitstraal. En dan is sy nog mooi ook. Wie sal nie omgee om haar te ontmoet nie? Voorspoed Elma Postma!"