Die nuus dat Angelique Gerber, die Laan se liefling Clara, nou Boer soek ’n vrou gaan aanbied, het verlede week gebreek. Angelique het aan Huisgenoot vertel dat sy bedank het by 7de Laan om aanbieder te wees van dié gewilde werklikheidsreeks op kykNET. Maar wat gaan Elma Postma, wat die eerste drie reekse van Boer soek ’n vrou aangebied het, dan nou doen? Sy gaan van 13 April af in Binnelanders te sien wees. Ernst Swart, reklame-agent van Binnelanders, wou nie die aap uit die mou laat nie, maar kon bevestig dat Elma nie as ’n gasspeler na die sepie toe gaan nie. Sy gaan dus vir ’n geruime tyd op die kassie te sien wees. Binnelanders gaan van 4 April af weer net ’n halfuur lange sepie wees. Die Sub Judice deel val weg en dit sal slegs op kykNET te sien wees.

Elma was onlangs in Amerika waar sy getoer het, en ’n lekker lang vakansie gevat het ná ’n jaar van harde werk.