"Ek wil net sê hoe trots ek op my ousus is. Sy is gisteraand in 'n internasionale kompetisie as Mev. Verenigde Nasies in Jamaika gekroon. Sy't nie net gewen omdat sy beeldskoon is nie, maar veral vir die ongelooflike filantropiese werk wat sy doen. Welgedaan, Kona! So trots op jou," het Elvis op sy Facebook-blad laat weet.

Mev. Verenigde Nasies is nie net nog 'n skoonheidskompetisie nie, maar fokus veral op "regte" vroue en hul passie vir die mense om hulle. Finaliste word beoordeel op grond van hul filantropiese werk en die verskil wat hulle daagliks in die gemeenskap maak.

Kona, 'n ma van twee, was in 2006 nog 'n senior sake-analis in die bankwese. Sy was selfs toe al betrokke by gemeenskaps- en liefdadigheidsorganisasies waar sy in haar vrye tyd gemeenskapswerk gedoen het. Daarna het sy die raadsaal verlaat om met 'n gesin te begin.

Dis in hierdie tyd dat sy by Rays of Hope begin werk het. Sedertdien het sy die projekbestuurder van hul projek Child Headed Households geword. Die projek fokus op hulp aan weeskinders in gesinne waarvan 'n kind die hoof is nadat die ouers of versorgers weens vigs gesterf het. Teen Desember verlede jaar was sowat 30 gesinne, onder wie 100 weerlose kinders, deel van die projek om 'n beter toekoms vir die kinders te bied. (Bron: www.artslink.co.za)

Kona en Elvis by die Elvis Blue Musiek-Akademie

Laas jaar, nadat Kona as die plaaslike Mev. Verenigde Nasies gekroon is, het sy gesê dat sy nooit gedroom het dat sy haar vaardighede by 'n nie-winsgewende organisasie sou inspan nie.

"Ek hoop om Suid-Afrikaners te inspireer om by hul gemeenskappe betrokke te raak, en om 'n groter bewustheid te skep rondom huishoudings waarvan kinders aan die hoof staan," het Kona gesê.

Jy kan Kona se blog volg by The Unsinkable Mommy Brown.