Vir jare het die Amerikaanse aktrise Julianne Hough gedink haar pynlike menstruasie is normaal en maar deel van vrouwees. Min het sy geweet ... In 2008 is die Hollywood-ster met endometriose, 'n pynlike en chroniese siektetoestand, gediagnoseer.

"Die pyn is verskriklik. Dit voel asof vlymskerp dolke jou steek, dis 'n onmiddellike pyn. En ek beleef dit vier tot vyf keer per dag," het Julianne vroeër vanjaar aan NBC se Today gesê.

Toe sy en haar yshokkiespeler-man, Brooks Laich, in 2014 begin uitgaan, het sy nie vir hom vertel van haar toestand nie. Tydens een van haar pynlike episodes het hy so paniekbevange geraak, hy wou die ambulans bel. Dis toe dat sy vir hom vertel het. 

"Dit voel goed om te weet hy verstaan waardeur ek gaan," het sy aan InStyle gesê.

FOTO Instagram / @juleshough

In die verlede was dit dalk 'n taboe-onderwerp, maar deesdae praat al hoe meer vroue - onder wie bekendes ook - openlik oor hul stryd teen endometriose.

Aktrises soos Daisy Ridley, Whoopi Goldberg, Susan Sarandon en Lena Dunham is maar 'n paar wat al in onderhoude oor hul toestand oopgemaak het. Lena het in Februarie verlede jaar op sosiale media aangekondig sy moet rus. 

"Ek gaan op die oomblik deur ’n moeilike tyd met my siekte. My liggaam, en ook my ongelooflike dokters, het my laat weet dis tyd om te rus," het sy op Instagram geskryf.

Die Britse aktrise Daisy Ridley praat openlik oor haar stryd met endometriose. FOTO Instagram

Julianne meen dit help om daaroor te praat. "Hoe meer mense oor endometriose praat, hoe vinniger kan vroue met erge pyn gediagnoseer word," het sy aan Glamour gesê. Sy probeer 'n gesonde en aktiewe leefstyl volg. "Dit help my, met my gemoed en my pyn."

Wat is endometriose?

Endometriose is ’n pynlike, chroniese siektetoestand waarvan die endometrium, die voeringlagie van die baarmoeder, ook plek-plek buite die baarmoeder voorkom. Endometriose veroorsaak dikwels vergroeiings in jou bekkenholte. In uiterste gevalle kan jou organe selfs aan mekaar begin vasgroei, wat as ’n “gevriesde bekken” bekend staan.

Dis die intense ontsteking, tesame met die vergroeiings, wat dikwels tot ondraaglike pyn tydens menstruasie lei. Die pyn sprei gewoonlik vanuit jou bekkenholte na jou lies, rug en dye en is soms so intens dat dit jou lewe en verhouding versuur. Pyn gedurende en ná seksuele omgang is algemeen. Diarree, hardlywigheid, ’n opgeswelde buik en bloederige urine kom ook dikwels voor. Baie vroue het ook onreëlmatige vaginale bloeding.

Maar nie alle lyers se simptome is ewe erg nie. Sommige vroue met taamlik min groeisels kan erg deurloop. Terwyl ander feitlik geen pyn het nie ondanks erge groeisels. Jy kan dalk eers agterkom jy het endometriose ná ’n besoek aan ’n vrugbaarheidspesialis of nadat ’n laparoskopie gedoen is. Sowat 30 tot 40% van vroue wat hieraan ly, is onvrugbaar.

FOTO Instagram / @juleshough

ABC van endometriose

Voorkoms

• Sowat 5-10% van vroue in hul vrugbare jare beleef die aftakelende pyn van endometriose.

• Sowat 75% van vroue met chroniese pyn in hul bekken ly aan endometriose. So ook 25-40% van onvrugbare vroue.

Algemene simptome

• Pynlike menstruasie

• Premenstruele pyn

• Pynlike of moeilike geslagsomgang

• Chroniese bekkenpyn

Ander simptome

• Rugpyn

• Chroniese moegheid

Bronne: Health24, Today, InStyle, Glamour