Christo Davids (Errol van 7de Laan) en sy vriendin, Cindy Khana , het 2012 op 'n hoë noot begin toe hulle op 6 Januarie verloof geraak het.

Dié twee is al sowat nege jaar saam en Christo het gereken dis hoog tyd om die volgende stap in hulle verhouding te neem.

Hy was einde verlede jaar in die Kaap besig met David Kramer se produksie, Some Like it Vrot, en was ook betrokke by  die Cape Heart Theatre waar hy artistieke direkteur is.

“Cindy het ‘n bietjie krapperig geraak met my vol skedule en met reg – dit was net werk, werk, werk,” vertel hy.

Hy het Vrydag die 6de af gehad en besluit om haar ‘n bietjie te bederf. Die twee het soos wafferse toeriste op die Kaap se bekende rooi bus die wêreld vol gery en hulle gate uit geniet. Oor middagete op Tafelberg het hy die jawoord gevra.

Nou watter meisie sal kan nee sê as so ‘n sjarmante jong man haar op so ‘n spesiale plek vra om sy vrou te word?

Die twee beplan om Maart 2013 te trou. Op die 7de Laan-stel is almal in die wolke oor die goeie nuus .