Magic Mike se voorprent is (opsetlik) misleidend. Dit beeld die fliek uit as ‘n sexy komedie oor ‘n manlike ontkleedanser. Een, dit is nie ‘n komedie nie, en twee, die sexy element van die fliek maak jou met tye ongemaklik. Magic Mike is meer as ligte Vrydagaand-vermaak.

DIE STORIE

Mike is 'n ontkleedanser wat meer uit die lewe wil hê. Adam is 'n 19-jarige loskop wat nie weet wat hy wil hê nie. Die twee ontmoet toevallig en Adam sluit natuurlik aan by die dansklub. Adam se nugter ouer suster is nie beïndruk met die toedrag van sake nie. Mike belowe om ‘n oog oor Adam te hou, maar hou eintlik ‘n oog oor die sussie.

HOOGTEPUNTE

Channing Tatum is werklik sjarmant en het 'n fassinerende teenwoordigheid op die grootskerm. Hy is boonop iets vir die oog en ‘n uitstekende danser. (Magic Mike is losweg gegrond op Channing se dae as ontkleedanser.)

Channing Tatum

Magic Mike bring nie hulde aan die dansers of die ontkleedans-bedryf nie. Regisseur Steven Soderbergh lig die geldgierigheid en die narsisme daarvan uit. Mike verduidelik in alle erns aan Brooke dat dit te verstane is dat Adam wil "dans". Dit is maklike geld, maklike meisies en boonop vryheid.

Matthew McConaughey se interpretasie van die slymerige Dallas, eienaar van die klub, is die toonbeeld van narsisme. In sy woonstel is 'n skildery en kopbeeld van homself, sy gimpakkie laat min oor aan die verbeelding en sy enigste ontkleedans-toneel in die film grens aan walglik.

Daar is elemente in die film wat verras. Die oorbeskermende sussie oordeel nie vir Mike nie. Sy kan sien hy het 'n goeie hart, en al kom hulle goed oor die weg van die begin af, kies sy bloot om weg te bly van sy leefstyl af.

Mike soek al 'n wyle meer uit die lewe, so wanneer Brooke opdaag, is sy bloot iemand met wie hy dit kan deel en nie sy redding nie. (Te veel Hollywood-rolprente verkondig dat jou sielsgenoot/die "een" jou kan red.)

Magic Mike

Die einde van die prent gaan die gewone fliekganger nie tevrede stel nie, want daar is geen duidelike antwoorde of oplossings nie. Adam neem blykbaar die verkeerde besluit en Mike die regte een. Tog het Mike geen duidelike toekoms nie? Magic Mike is 'n insetsel in 'n groter storie.

LAAGTEPUNTE

So oulik soos wat Channing is, is ek nog nie oortuig dat hy kan toneelspeel nie. Maar ons gee hom nog 'n kans, want ten minste het sy keuse in rolle aansienlik verbeter oor die laaste paar jaar. 21 Jump Street was 'n aangename verrassing.

Die Brooke-karakter was vir my effe pateties. Sy het ‘n vervelige werk, 'n blykbaar vervelige kêrel en vervelige toekomsplanne. Sy is nie werklik 'n opwindende teenfoeter vir die twee manne se lewe van dans, dwelms en los meisies nie?

VIR WIE SAL EK DIT AANBEVEEL?

Een van die gevolge van films resenseer, is dat mense jou vra vir aanbevelings. Ek is dan ook vanoggend deur twee ouer vroue gevra om 'n fliek aan te beveel. Magic Mike gaan nie op die lys wees nie. Alhoewel die "slym" beperk word, val Magic Mike onder ‘n nuwe soort fliek wat meer en meer voorkom. Ek dink aan voorbeelde soos Bridesmaids, Knocked Up en 21 Jump Street. Almal is gemaak met 'n nuwe manier van dink, van lag en gebruik die ongemak van die kyker om 'n punt tuis te bring.

OPSOMMEND

Die misleidende voorprent, en natuurlik 'n halfkaal dansende Channing as trekpleister, het die fliek nie skade gedoen nie. Dit het reeds $92 miljoen by die loket verdien.

DETAILS

Met: Channing Tatum, Alex Pettyfer, Matthew McConaughey
Regisseur: Steven Soderbergh
1 hr. 50 min.

KYK DIE LOKPRENT