Kyk, as die 7de Laners ons al een ding geleer het, is dit dat hulle bymekaar kan staan en ’n plan maak as die kalf in die put is. Dié keer sorg Bernard se blink idee om Hilda en Maria te help vir groot pret onder die Hillsiders.

Hilda en Maria is doodbenoud oor hulle die telefoonrekening so opgejaag het. Hilda sien ’n egskeiding dreig en Maria vrees Moekie en Rondomskrik is haar voorland as Oubaas daarvan moet uitvind.

Die twee brei vir ’n vale sokkies en serpe wat hulle vir ekstra geld kan verkoop, maar nie een van hulle kan warm melk aan ’n Eskimo verkoop nie. Dis net hier waar Bernard ingryp met ’n briljante plan. Binne ’n oogwink is alles gereël – maar gaan dit werk?

Ons kan nie die kat uit die sak laat nie, maar ons gaan tog verklap dat die manne hul hemde laat waai en dat die joligheid Oubaas se mond  behoorlik laat oophang. So, moenie die pret misloop nie. Sluit asseblief Woensdag 23 Mei by ons aan in Oppiekoffie. Dis beslis die moeite werd!